Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:28-38 Bybel vir Almal (ABA)

28. Een van die priesters wat uit Samaria gekom het, het toe teruggegaan en hy het in die stad Bet-El gaan woon. Hy het vir die mense geleer hoe hulle die Here moet dien.

29. Maar al die mense wat in die land Israel kom woon het, het ook nog aangehou om vir hulleself gode te maak, en hulle het die gode gesit in die tempels by die offer-plekke wat die mense van Samaria gebou het. Die mense van die verskillende volke het dit gedoen in die stede waar hulle gewoon het.

30. Die mense van Babel het die god Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kut het die god Nergal gemaak, die mense van Hamat het die god Asima gemaak,

31. die mense van Awwa het die gode Nibgas en Tartak gemaak, en die mense van Sefarwajim het hulle kinders verbrand vir die gode Adrammelek en Anammelek, die gode van Sefarwajim.

32. Maar hierdie mense het ook die Here gedien en hulle het hulle eie priesters gekies en aangestel. Die priesters het gewerk in die tempels by die offer-plekke.

33. Die mense het die Here gedien, maar hulle het ook hulle eie gode gedien soos hulle altyd gedoen het in die lande van waar hulle gekom het.

34. Hulle doen dit vandag nog. Hulle dien nie die Here reg nie, want hulle is nie gehoorsaam aan die wette wat die Here gegee het vir die nageslag van Jakob nie. Die Here het vir Jakob die naam Israel gegee

35. en die Here het ’n verbond gemaak met hom. Die Here het vir hulle gesê: “Julle mag nie ander gode dien nie en julle mag nie vir hulle buig nie en julle mag nie vir hulle offer nie.

36. Julle moet net die Here dien. Dit is Hý wat vir julle uit Egipte gebring het toe Hy groot wonderwerke gedoen het. Julle moet Hom dien en vir Hom buig en vir Hom offer,

37. en julle moet altyd gehoorsaam wees aan die wette wat Hy vir julle gegee het. Julle moenie ander gode dien nie.

38. Julle moenie die verbond vergeet wat Hy met julle gemaak het nie. Julle moenie ander gode dien nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17