Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 16:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Agas seun van koning Jotam van Juda het koning geword in die sewentiende jaar nadat Peka seun van Remalja koning van Israel geword het.

2. Agas was 20 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Hy was nie soos sy voorvader Dawid nie, hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie.

3. Hy het gedoen soos die konings van Israel, en hy het ook sy seun verbrand. Dit was een van die slegte dinge wat party van die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die Israeliete.

4. Agas het ge-offer en wierook gebrand op die offer-plekke en op die heuwels en onder elke groen boom.

5. In die tyd toe Agas koning was, het Resin koning van Aram en Peka, seun van Remalja en koning van Israel, gekom om oorlog te maak teen Jerusalem. Hulle het hulle tente opgeslaan rondom die stad en hulle wou die stad aanval, maar hulle soldate kon nie in die stad inkom en begin oorlog maak nie.

6. Dit was in die tyd toe koning Resin van Aram die stad Elat teruggevat het. Elat het toe weer aan Aram behoort. Resin het die Judeërs daar weggejaag. Daar het toe Arameërs na Elat gekom, en hulle woon vandag nog daar.

7. Agas het boodskappers gestuur na koning Tiglat-Pileser van Assirië en hy het vir hom gesê: “Ek sal alles doen wat jy sê, ek sal jou respekteer. Kom asseblief en red my van die koning van Aram en van die koning van Israel. Hulle val my aan.”

8. Agas het die silwer en die goud gevat wat hy in die tempel kon kry, en hy het vir die koning van Assirië ’n present gestuur.

9. Die koning van Assirië het gedoen wat Agas gevra het. Hy het die stad Damaskus aangeval en gevat. Hy het die mense van die stad gevang en weggevat na die land Kir en hy het vir Resin doodgemaak.

10. Koning Agas het vir koning Tiglat-Pileser gaan ontmoet in Damaskus. Toe Agas die altaar sien wat daar in Damaskus is, het hy ’n klein altaartjie gemaak wat dieselfde lyk en hy het dit saam met ’n plan van die altaar vir die priester Urija gestuur.

11. Die priester Urija het die altaar laat bou presies soos Agas vir hom uit Damaskus laat weet het. Die altaar was klaar voordat Agas teruggekom het van Damaskus.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 16