Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 12:5-17 Bybel vir Almal (ABA)

5. Hulle moet die geld neem van die mense wat dit bring, en dan moet hulle die tempel regmaak oral waar dit nodig is.

6. Maar in die 23ste jaar nadat Joas koning geword het, het die priesters nog nie die werk aan die tempel begin doen nie.

7. Joas roep toe die priester Jojada en die ander priesters en hy sê vir hulle: “Hoekom maak julle nie die tempel reg nie? Van nou af mag julle nie meer die geld hou wat die mense bring nie, julle moet dit gebruik om die tempel reg te maak.”

8. Die priesters het gesê dit is goed, hulle sal nie meer die geld wat die mense bring, hou nie, hulle sal dit net gebruik om die tempel reg te maak.

9. Die priester Jojada het toe ’n kis geneem en hy het ’n gat in die deksel gemaak. Hy het die kis neergesit regs langs die altaar, waar die mense inkom. Die priesters wat by die deure wagstaan, het al die geld geneem wat mense na die tempel gebring het en hulle het die geld in die kis gegooi.

10. Toe hulle sien daar is baie geld in die kis, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester gekom en hulle het die geld getel en in sakke gesit.

11. Daarna het hulle die geld gegee vir die voormanne wat die werk moes laat doen, en die voormanne het die geld gebruik om die skrynwerkers en die bouers wat aan die tempel gewerk het, te betaal.

12. Hulle het ook die messelaars betaal en die mense wat die klippe gekap het. Hulle het ook hout en gekapte klip gekoop om die tempel reg te maak en om alles te doen wat nodig is.

13. Hulle het nie die geld gebruik om silwerbakke, skêre, skottels, trompette of enige ander goue of silwer gereedskap vir die tempel te maak nie.

14. Hulle het die geld gegee vir die voormanne wat die werk moes laat doen, en die voormanne het die geld gebruik om die tempel te laat regmaak.

15. Die sekretaris van die koning en die hoëpriester het die geld vir die voormanne gegee, en die voormanne het eerlik gewerk. Die sekretaris en die hoëpriester het nie gesê die voormanne moet kom sê wat hulle met die geld gedoen het nie.

16. Mense het ook geld betaal vir skuld-offers en vir sonde-offers, maar die voormanne het nie daardie geld gebruik vir die tempel nie, daardie geld was vir die priesters.

17. In daardie tyd het koning Gasael van Aram die stad Gat aangeval en oorwin, en daarna het hy gekom om Jerusalem aan te val.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 12