Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28:8-18 Bybel vir Almal (ABA)

8. Saul het ander klere aangetrek sodat niemand kon sien wie hy is nie, en hy en twee manne het na die vrou toe gegaan. Hulle het in die nag by die vrou gekom, en Saul het vir haar gesê: “Jy moet vir my help, jy moet praat met die gees van ’n dooie man. Ek sal vir jou sê wie jy moet laat kom.”

9. Maar die vrou het vir Saul gesê: “Luister na my, jy weet self wat Saul gedoen het. Hy het die vroue wat met die geeste van dooie mense praat en die waarsêers uit die land gejaag. Hoekom wil jy hê ek moet iets doen waaroor hy my sal doodmaak?”

10. Saul het vir haar voor die Here belowe en gesê: “So seker soos die Here lewe, jy sal nie hieroor skuldig wees nie.”

11. Die vrou het gevra: “Wie moet ek vir jou laat kom?”En Saul het gesê: “Jy moet Samuel vir my laat kom.”

12. Toe die vrou vir Samuel sien, het sy hard geskree en vir Saul gesê: “Hoekom het jy my bedrieg? Jy is Saul.”

13. Die koning het vir haar gesê: “Jy moenie bang wees nie. Wat sien jy?”Die vrou het gesê: “Ek sien ’n gees wat uit die aarde kom.”

14. Saul het vir haar gevra: “Hoe lyk hy?”En sy het gesê: “Hy lyk soos ’n ou man, en hy dra ’n bo-kleed.”Saul het toe geweet dit is Samuel. Saul het gekniel en hy het laag gebuig.

15. Samuel het vir Saul gesê: “Hoekom is jy lastig? Hoekom laat jy my kom?”Saul sê toe: “Ek het baie probleme. Die Filistyne maak oorlog teen my, en God het weggegaan van my. Hy het my nie geantwoord nie, nie met die profete nie en nie met drome nie. Toe het ek vir jóú geroep, jy moet vir my sê wat ek moet doen.”

16. Samuel het gesê: “Die Here het weggegaan van jou en Hy het jou vyand geword. Hoekom vra jy nou vir mý om jou te help?

17. Die Here het gedoen wat Hy gesê het. Hy het my gestuur om vir jou te sê jy sal nie meer koning wees nie, Hy sal ’n ander man koning maak. Daardie man is Dawid.

18. Die Here het dit gedoen omdat jy ongehoorsaam was aan Hom. Hy was kwaad vir die Amalekiete, en jy het nie gedoen wat Hy vir jou gesê het nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 28