Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:2-13 Bybel vir Almal (ABA)

2. Jonatan het vir Dawid gewaarsku. Hy het vir Dawid gesê: “My pa Saul wil jou doodmaak. Jy moet nou baie versigtig wees. Jy moet môre gaan wegkruip, niemand moet weet waar jy is nie.

3. Ek sal kom en saam met my pa in die veld gaan staan naby die plek waar jy is en ek sal met my pa praat oor jou, sodat ek kan weet wat hy wil doen. Dan sal ek dit vir jou sê.”

4. Jonatan het by die koning gesoebat oor Dawid. Hy het gesê: “Koning, jy moet asseblief nie iets verkeerd doen aan Dawid nie, want hy het nie iets verkeerd gedoen teen jou nie. Alles wat Dawid gedoen het, was baie goed vir jou.

5. Hy het geweet dit is baie gevaarlik om teen die Filistyn te veg, maar hy het dit gedoen en hy het die Filistyn oorwin. Die Here het toe vir al die manne van Israel ver laat wen. Koning, jy het dit gesien en jy was bly. Hoekom wil jy nou verkeerd doen en vir Dawid doodmaak? Hy is onskuldig, hy het niks gedoen waaroor jy hom moet doodmaak nie.”

6. Saul het geluister na wat Jonatan gesê het en hy het belowe: “So seker soos die Here lewe, niemand sal vir Dawid doodmaak nie.”

7. Jonatan het toe vir Dawid geroep en hy het alles vir hom vertel, en hy het vir Dawid teruggebring na Saul toe. Alles was toe weer soos dit voorheen was.

8. Daar was weer oorlog, en Dawid het teen die Filistyne gaan veg. Hulle het hard geveg en Dawid het die Filistyne oorwin. Die Filistyne het gevlug.

9. ’n Bose gees wat van die Here gekom het, het in Saul gekom. Saul het in sy huis gesit, en sy spies was in sy hand. Dawid het musiek gemaak.

10. Saul het probeer om vir Dawid teen die muur vas te gooi met sy spies, maar Dawid het weggespring, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en hy het daardie nag weggekom.

11. Saul het manne na Dawid se huis gestuur om by sy huis wag te staan en om Dawid in die oggend dood te maak, maar Dawid se vrou Mikal het vir Dawid gewaarsku. Sy het vir hom gesê: “Jy moet vannag vlug om jou lewe te red, anders sal hulle jou môre doodmaak.”

12. Mikal het vir Dawid deur die venster laat afsak, en hy het weggegaan en gevlug en weggekom.

13. Mikal het ’n beeld geneem en sy het dit op die bed gesit. Sy het ’n stuk bokvel om die beeld se kop gedraai en sy het die beeld toegemaak met klere.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19