Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:5-23 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die een rots het soos ’n pilaar gestaan, langs die noordekant van die bergpas, naby Mikmas, en die ander rots was langs die suidekant van die bergpas, naby Geba.

6. Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan op na daardie heidene toe. Miskien sal die Here ons help, want niks kan die Here keer wanneer Hy iemand wil red nie. Hy gebruik baie mense of min mense.”

7. Jonatan se wapendraer het vir hom gesê: “Jy moet alles doen wat jy dink is reg. Gaan, en ek sal doen wat jy doen.”

8. Toe sê Jonatan: “Wanneer ons opgaan na hulle toe, dan moet ons só loop dat hulle ons sien.

9. As hulle vir ons sê: ‘Bly daar, ons kom na julle toe,’ dan moet ons staan waar ons is, ons moenie opgaan na hulle toe nie.

10. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ dan moet ons opgaan, want dit sal vir ons wys dat die Here ons sal laat wen teen hulle.”

11. Jonatan en sy wapendraer het só geloop dat die Filistyne kon sien hulle kom, en die Filistyne het gesê: “Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate waar hulle weggekruip het.”

12. Die manne van die groep Filistyne het vir Jonatan en sy wapendraer gesê: “Kom op na ons toe, ons sal vir julle wys wie is die sterkste.”Toe sê Jonatan vir sy wapendraer: “Kom saam met my, want die Here sal ons laat wen teen hulle.”

13. Jonatan het op sy hande en voete opgeklim en sy wapendraer het agter hom gekom. Jonatan het die Filistyne met sy swaard gekap, en hulle het op die grond geval, en sy wapendraer het die Filistyne agter Jonatan doodgemaak.

14. Jonatan en sy wapendraer het daardie eerste dag omtrent 20 Filistyne doodgemaak. Die grond waarop hulle die Filistyne doodgemaak het, was omtrent so groot soos ’n halwe ploeg-akker.

15. Die Filistyne in die kamp het almal baie bang geword, en die Filistyne wat goed moes bymekaarmaak om weg te vat, het gebewe. Almal in die land was baie bang, want hulle het groot geskrik.

16. Saul se wagte in Gibea in die land Benjamin het gesien dat die Filistyne vlug en dat hulle heen en weer hardloop.

17. Saul het gesê: “Tel hoeveel manne hier is en kyk wie is nie hier nie.”Hulle het getel, en hulle het gesien Jonatan en sy wapendraer was nie daar nie.

18. Saul het vir die priester Agitub gesê: “Bring die kis van God nader.”Die kis was daardie dag by die Israeliete.

19. Maar Saul was besig om met die priester te praat, toe hoor hulle die Filistyne skree harder en harder en hulle sien dat die Filistyne heen en weer hardloop. Saul sê toe vir die priester: “Los die kis.”

20. Saul en al die manne het geskree om die oorlog te begin en hulle het gegaan om die Filistyne aan te val. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak, en alles was baie deurmekaar.

21. Die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne was en wat saam met hulle gekom het om oorlog te maak, het nou na die Israeliete toe gekom wat by Saul en Jonatan was.

22. Al die Israeliete wat weggekruip het in die Efraim-berge, het gehoor dat die Filistyne gevlug het. Hulle het ook die Filistyne gevolg en gejaag.

23. Die Here het die Israeliete daardie dag gered. Hulle het oorlog gemaak tot verby die stad Bet-Awen.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14