Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:5-16 Bybel vir Almal (ABA)

5. Hy het vir Dawid gesê hoeveel mense hy getel het. Die manne van Israel wat oorlog kon maak, was almal saam 1 100 000, en die manne van Juda wat oorlog kon maak, was 470 000.

6. Joab het nie die manne van die Levi-stam en die Benjamin-stam saam met die ander manne getel nie, want hy het dit gehaat om te doen wat die koning gesê het.

7. Die Here het ook nie gehou van wat Dawid gedoen het nie en Hy het die Israeliete gestraf.

8. Toe het Dawid vir God gesê: “Ek het ’n groot sonde gedoen toe ek hierdie ding laat doen het. Nou moet U asseblief u dienaar se sonde vergewe, want ek het ’n baie dom ding gedoen.”

9. Gad was Dawid se siener. Die Here het vir Gad gesê:

10. “Jy moet vir Dawid gaan sê Ek sê: Dawid, Ek noem drie dinge vir jou. Jy moet een kies, dan sal Ek dit met jou laat gebeur.”

11. Gad het na Dawid toe gegaan en hy het vir Dawid gesê: “Die Here sê jy moet sê wat moet gebeur:

12. Wil jy hê daar moet drie jaar lank hongersnood wees, of wil jy drie maande lank vlug vir jou vyande? Hulle sal so naby jou kom dat hulle jou en jou mense kan doodmaak. Of moet die Here self jou mense in die land drie dae lank laat sterf van pes? Moet die Engel van die Here mense in die hele land Israel doodmaak? Jy moet besluit en sê wat ek moet sê vir Hom wat my gestuur het.”

13. Dawid het vir Gad gesê: “Ek het ’n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig. Maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.”

14. Die Here het pes laat kom in die land Israel, en daar het 70 000 Israeliete gesterf.

15. God het ’n engel na Jerusalem gestuur om die mense in die stad dood te maak, maar toe die engel dit begin doen, het die Here dit gesien en Hy het besluit dat die straf moet ophou. Hy het vir die engel wat die mense laat sterf het, gesê: “Stop, dit is nou genoeg, laat sak jou hand.”Die Engel van die Here het bly staan by die dorsvloer van die Jebusiet Ornan.

16. Toe Dawid opkyk, sien hy die Engel van die Here tussen die hemel en die aarde staan. Die Engel het ’n swaard in sy hand gehad en hy het dit oor Jerusalem gehou. Dawid en die leiers van Israel het rouklere aangehad en hulle het laag gebuig met hulle gesigte teen die grond.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21