Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Wil jy hê daar moet drie jaar lank hongersnood wees, of wil jy drie maande lank vlug vir jou vyande? Hulle sal so naby jou kom dat hulle jou en jou mense kan doodmaak. Of moet die Here self jou mense in die land drie dae lank laat sterf van pes? Moet die Engel van die Here mense in die hele land Israel doodmaak? Jy moet besluit en sê wat ek moet sê vir Hom wat my gestuur het.”

13. Dawid het vir Gad gesê: “Ek het ’n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig. Maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.”

14. Die Here het pes laat kom in die land Israel, en daar het 70 000 Israeliete gesterf.

15. God het ’n engel na Jerusalem gestuur om die mense in die stad dood te maak, maar toe die engel dit begin doen, het die Here dit gesien en Hy het besluit dat die straf moet ophou. Hy het vir die engel wat die mense laat sterf het, gesê: “Stop, dit is nou genoeg, laat sak jou hand.”Die Engel van die Here het bly staan by die dorsvloer van die Jebusiet Ornan.

16. Toe Dawid opkyk, sien hy die Engel van die Here tussen die hemel en die aarde staan. Die Engel het ’n swaard in sy hand gehad en hy het dit oor Jerusalem gehou. Dawid en die leiers van Israel het rouklere aangehad en hulle het laag gebuig met hulle gesigte teen die grond.

17. Toe sê Dawid vir God: “Dit is ék wat gesê het hulle moet die volk tel, dit is ék wat sonde gedoen het. Dit is ék wat die verkeerde ding gedoen het. Wat het hierdie mense verkeerd gedoen? Niks. U moet vir mý en my familie straf, U moenie u volk straf nie.”

18. Die Engel van die Here het vir Gad gesê hy moet vir Dawid sê hy moet opgaan en hy moet ’n altaar bou op die dorsvloer van die Jebusiet Ornan.

19. Dawid het gegaan om te doen wat die Here vir Gad gesê het om vir hom te sê.

20. Ornan was besig om koringkorrels uit die koring-are te haal. Toe hy omdraai, het hy die Engel gesien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggekruip.

21. Dawid het na Ornan toe gegaan. En toe Ornan kyk en vir Dawid sien, het hy uit die dorsvloer gekom. Hy het voor Dawid gebuig met sy gesig teen die grond.

22. Dawid sê toe vir Ornan: “Jy moet die plek waar die dorsvloer is, aan my verkoop. Ek wil daar ’n altaar vir die Here bou. Ek sal vir jou alles betaal wat jy daarvoor wil hê. Wanneer ek die altaar gebou het, dan sal die pes ophou.”

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21