Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 19:2-12 Bybel vir Almal (ABA)

2. Dawid het gedink: Nagas was ’n vriend van my, ek wil ook ’n vriend wees van sy seun Ganun.Dawid het toe amptenare gestuur om vir Ganun te sê dat hy saam met hom hartseer voel omdat sy pa dood is. Maar toe die amptenare van Dawid in die land van die Ammoniete by Ganun kom om vir hom te sê dat Dawid saam met hom hartseer voel,

3. het die leiers van die Ammoniete vir Ganun gesê: “Wat dink jy, hoekom het hierdie amptenare na ons toe gekom? Dink jy Dawid het jou pa gerespekteer en daarom het hy mense na jou toe gestuur om vir jou te sê dat hy hartseer voel saam met jou? Nee, ons dink sy amptenare het gekom net om oral in die land te kyk en om planne te maak hoe hulle die stad kan aanval en verwoes.”

4. Toe neem Ganun die amptenare van Dawid en hy laat hulle baarde afskeer. Hy het ook hulle klere laat afsny by hulle heupe, en toe het hy hulle laat gaan.

5. Die manne het gegaan, maar hulle het baie verneder gevoel. Toe Dawid hoor wat met die manne gebeur het, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet en vir hulle te sê dat hulle in Jerigo moet bly totdat hulle baarde weer gegroei het, daarna kan hulle terugkom.

6. Die Ammoniete het besef dat Dawid kwaad is vir hulle. Ganun en die Ammoniete het 1 000 talente silwer gestuur om manne op oorlogkarre en perde te huur om vir hulle te kom help, manne van die Arameërs van Mesopotamië, en die Arameërs van die stede Maäka en Soba.

7. Die Ammoniete het 32 000 oorlogkarre gehuur, en hulle het ook die koning van Maäka en sy manne betaal om vir hulle te kom help. Die koning van Maäka en sy manne het gekom en hulle het hulle tente opgeslaan naby die stad Medeba, en die Ammoniete het uit hulle stede bymekaargekom om oorlog te maak.

8. Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab en al sy manne gestuur, manne wat goed oorlog kon maak.

9. Die Ammoniete het uitgekom en hulle het gereedgestaan voor die poort van hulle stad. Die konings wat vir hulle kom help het, het op ’n ander plek in die veld gestaan.

10. Joab het gesien hy sal op twee plekke oorlog moet maak. Hy het van die beste manne van Israel gekies en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Arameërs te veg.

11. Hy het die ander manne vir sy broer Abisai gegee en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Ammoniete te veg.

12. Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, dan moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, dan sal ek jou kom help.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 19