Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:8-23 Bybel vir Almal (ABA)

8. Die dra-houte van die kis was so lank dat iemand hulle punte kon sien as hy voor die binneste kamer gestaan het, maar hy kon die punte nie sien as hy buite gestaan het nie. Die dra-houte is nou nog daar.

9. Daar was niks in die kis nie, net die twee plat klippe wat Moses daarin gesit het by Horeb-berg. Hy het dit gedoen toe die Here met die Israeliete ’n verbond gemaak het nadat hulle uit Egipte gekom het.

10. Toe die priesters uit die tempel kom, het daar ’n wolk in die tempel gekom en die wolk het alles toegemaak.

11. Die wolk was so dik dat die priesters nie kon sien om hulle werk te doen nie. Die Koning, die Here, was daar.

12. Daarna het Salomo gesê: “Here, U het gesê U wil in ’n plek woon waar dit donker is.

13. En ek het nou vir U ’n tempel gebou om in te woon, ’n huis waar U altyd kan woon.”

14. Toe kyk die koning na die hele volksvergadering van Israel wat daar staan. Hy het hulle gegroet

15. en hy het gesê: “Ek prys die Here, die God van Israel. Hy het vir my pa Dawid iets belowe en Hy het gedoen wat Hy belowe het. Hy het gesê:

16. ‘Van die tyd toe Ek my volk Israel uit Egipte gebring het tot nou toe, het Ek nie ’n stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel nie, ’n stad waar iemand ’n tempel moet bou waar Ek kan verskyn nie, maar Ek het vir Dawid gekies om oor my volk Israel te regeer.’

17. My pa Dawid het besluit om ’n tempel te bou om die Here, die God van Israel, te dien,

18. maar die Here het vir my pa Dawid gesê: ‘Dit is goed dat jy planne het om vir My ’n tempel te bou,

19. maar jý sal nie die tempel bou nie, jou seun wat gebore sal word, hý sal vir My die tempel bou.’

20. En die Here het laat gebeur wat Hy belowe het. Ek het koning geword ná my pa Dawid, ek sit op die troon van Israel soos die Here belowe het, en ek het die tempel gebou om die Here, die God van Israel, te dien.

21. Ek het daar ’n plek gereedgemaak vir die kis van die Here waarin die verbond is wat die Here met ons voorvaders gemaak het toe Hy hulle uit Egipte gebring het.”

22. Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek

23. en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie ’n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8