Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:15-22 Bybel vir Almal (ABA)

15. en hy het gesê: “Ek prys die Here, die God van Israel. Hy het vir my pa Dawid iets belowe en Hy het gedoen wat Hy belowe het. Hy het gesê:

16. ‘Van die tyd toe Ek my volk Israel uit Egipte gebring het tot nou toe, het Ek nie ’n stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel nie, ’n stad waar iemand ’n tempel moet bou waar Ek kan verskyn nie, maar Ek het vir Dawid gekies om oor my volk Israel te regeer.’

17. My pa Dawid het besluit om ’n tempel te bou om die Here, die God van Israel, te dien,

18. maar die Here het vir my pa Dawid gesê: ‘Dit is goed dat jy planne het om vir My ’n tempel te bou,

19. maar jý sal nie die tempel bou nie, jou seun wat gebore sal word, hý sal vir My die tempel bou.’

20. En die Here het laat gebeur wat Hy belowe het. Ek het koning geword ná my pa Dawid, ek sit op die troon van Israel soos die Here belowe het, en ek het die tempel gebou om die Here, die God van Israel, te dien.

21. Ek het daar ’n plek gereedgemaak vir die kis van die Here waarin die verbond is wat die Here met ons voorvaders gemaak het toe Hy hulle uit Egipte gebring het.”

22. Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8