Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 4:14-32 Bybel vir Almal (ABA)

14. Aginadab seun van Iddo was in die stad Maganajim,

15. Agimaäs was in die distrik Naftali. Hy was getroud met ’n ander dogter van Salomo, met Basmat.

16. Baäna seun van Gusai was in die distrik Aser en Bealot,

17. Josafat seun van Paruag was in die distrik Issaskar,

18. Simeï seun van Ela was in die distrik Benjamin,

19. Geber seun van Uri was in die land Gilead, in die deel van die land waar Sihon koning van die Amoriete was en waar Og koning van Basan was. Daar was net een distrikshoof in hierdie deel van die land.

20. Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand langs die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en hulle was gelukkig.

21. Salomo het regeer oor al die lande van die Eufraat-rivier tot by Filistyne-land en die grens van die land Egipte. Die mense van hierdie lande het vir Salomo presente gebring en hulle het vir hom gewerk totdat hy gesterf het.

22. Die kos wat hulle elke dag moes bring vir die mense in Salomo se paleis, was 30 kor fynmeel en 60 kor broodmeel,

23. tien beeste wat hulle in die stalle kos gegee het en 20 beeste wat in die veld gewei het, 100 skape en bokke, en ook nog takbokke, gaselle, gemsbokke en ribbokke, en hoenders en ganse wat hulle in hokke vetgemaak het.

24. Salomo het regeer oor al die lande wes van die Eufraat-rivier, dit was van die stad Tifsag tot by die stad Gasa. Hy het regeer oor al die konings wes van die Eufraat-rivier. Daar was vrede tussen hom en al die konings rondom hom.

25. Die mense van Juda en Israel, van die stad Dan in die noorde tot by die stad Berseba in die suide, het veilig gewoon terwyl Salomo gelewe het. Elkeen kon rustig onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom sit.

26. Salomo het 40 000 perde in sy stalle gehad vir sy oorlogkarre en hy het 12 000 ryperde gehad.

27. Die distrikshoofde het elkeen een maand lank kos gebring vir koning Salomo en vir almal wat by sy tafel geëet het. Daar was genoeg kos vir almal.

28. Die distrikshoofde het ook vir die perde genoeg gars en strooi gebring na die plekke waar die perde was.

29. God het vir Salomo baie wysheid en verstand gegee, hy het geweet van baie dinge, so baie soos die sand op die strand by die see.

30. Hy het meer wysheid gehad as die Oosmense en die mense van Egipte,

31. meer wysheid as al die ander mense, meer wysheid as Etan die Esragiet en meer wysheid as Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Almal in die lande rondom Israel het geweet van Salomo.

32. Hy het 3 000 spreuke en 1 005 liedere geskryf.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 4