Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:17-28 Bybel vir Almal (ABA)

17. Die een vrou het gesê: “Asseblief, Meneer, ek en hierdie vrou woon in een huis, en ek het ’n kind gekry. Hierdie vrou was by my in die huis.

18. Op die derde dag nadat ek die kind gekry het, het hierdie vrou ook ’n kind gekry. Ons was saam, niemand anders was by ons nie. Net ons twee was in die huis.

19. Maar hierdie vrou se kind het daardie nag gesterf, sy het hom doodgelê.

20. Toe staan sy in die middel van die nag op en sy vat mý kind terwyl ek slaap en sy sit hom by haar neer en sy sit haar seun wat dood is, by my neer.

21. Toe ek die volgende oggend opstaan om my kind te laat drink, sien ek hy is dood. Maar toe ek die oggend goed na hom kyk, sien ek dit is nie die kind wat ek gekry het nie.”

22. Maar die ander vrou het gesê: “Nee, die kind wat lewe, is mý kind. Die kind wat dóód is, is jóú kind.”En die vrou wat eerste gepraat het, het gesê: “Nee, jou kind is die kind wat dood is, my kind is die kind wat lewe.”So het hulle voor die koning gestaan en twis.

23. Die koning dink toe: Hierdie vrou sê die seun wat lewe, is haar kind, en die seun wat dood is, is die ander vrou se kind. Daardie vrou sê: “Nee, jóú seun is dood, dit is mý seun wat lewe.”

24. Toe sê die koning: “Bring vir my ’n swaard.”Iemand het vir hom ’n swaard gebring,

25. en die koning het gesê: “Kap die kind wat lewe, in twee stukke en gee vir elke vrou ’n stuk.”

26. Die vrou wat die ma was van die kind wat lewe, het met die koning gepraat. Sy was jammer vir haar seun, en sy het gesê: “Asseblief, Meneer, gee die kind vir daardie vrou, moenie hom doodmaak nie.”Maar die ander vrou het gesê: “Hy sal nie my kind wees nie en ook nie jou kind nie. Kap hom in twee stukke.”

27. Toe sê die koning: “Gee die kind wat lewe vir die vrou wat sê hy moet lewe, moenie hom doodmaak nie, sý is die kind se ma.”

28. Al die Israeliete het gehoor hoe die koning ge-oordeel het. Hulle het die koning gerespekteer, want hulle het gesien dat God self vir die koning wysheid gegee het om reg te kan oordeel.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3