Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:8-26 Bybel vir Almal (ABA)

8. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ja, hier is nog ’n profeet. Dit is Miga seun van Jimla. Ons kan vir hom vra wat die Here sê, maar ek hou nie van die man nie, want die dinge wat hy sê, is nooit goed vir my nie, dit is sleg.”Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie.”

9. Die koning van Israel roep toe ’n amptenaar en hy sê vir hom: “Gaan roep gou vir Miga seun van Jimla.”

10. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle koningsklere aangehad en elkeen het op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Al die profete was besig om vir hulle te sê wat sal gebeur.

11. Sedekia seun van Kenaäna het vir hom ’n paar ysterhorings gemaak en hy het gesê: “Die Here sê: Met hierdie horings sal jy die Arameërs stoot totdat hulle almal dood is.”

12. Al die ander profete het gesê dit sal so gebeur. Hulle het gesê: “Koning, jy moet gaan na die stad Ramot in Gilead. Jy sal wen, die Here sal die stad vir jou gee.”

13. Die boodskapper wat vir Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Al die profete sê dit sal goed gaan met die koning. Jy moet asseblief ook soos hulle sê, jy moet sê dit sal goed gaan.”

14. Miga het gesê: “So seker soos die Here lewe, ek sal sê wat die Here vir my sê.”

15. Toe Miga by die koning kom, vra die koning vir hom: “Miga, moet ons oorlog gaan maak teen die stad Ramot in Gilead of moet ons dit nie doen nie?”Miga het geantwoord: “Koning, jy moet gaan. Jy sal wen, die Here gee die stad vir jou.”

16. Maar toe sê die koning vir Miga: “Ek het baie maal vir jou gesê jy moet net die waarheid praat wanneer die Here jou stuur. Hoekom doen jy dit nie?”

17. En toe sê Miga: “Ek het gesien die vyande het al die mense van Israel na al die kante toe op die berge gejaag. Hulle is soos skape wat nie ’n skaapwagter het nie. Die Here het gesê: ‘Hierdie mense het nie ’n koning nie. Hulle moet teruggaan, elkeen moet veilig na sy huis gaan.’ ”

18. Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het vir jou gesê dat die profeet Miga altyd sê dit sal sleg gaan met my, nie goed nie.”

19. Miga het toe weer gepraat: “Luister wat sê die Here. Ek het gesien die Here sit op sy troon en almal wat in die hemel is, staan by Hom, hulle staan regs en links langs Hom.

20. En die Here het gesê: ‘Vir wie kan Ek stuur om vir Agab te bedrieg? Daardie een moet sê Agab moet na Ramot in Gilead gaan, Ek wil hê Agab moet daar sterf.’“Almal wat in die hemel is, het daaroor met mekaar gepraat,

21. en toe kom een van hulle en hy gaan staan voor die Here en hy sê: ‘Ek sal hom bedrieg.’“Toe vra die Here vir hom: ‘Hoe sal jy dit doen?’

22. en hy sê: ‘Ek sal gaan en ek sal ’n leuengees word. Ek sal vir al die profete sê om leuens te vertel vir koning Agab.’ Die Here het gesê: ‘Jy sal hom bedrieg, jy sal dit regkry. Gaan doen dit.’

23. Koning, daarom moet jy dit weet: Die Here het ’n leuengees laat kom in die mond van al hierdie profete van jou. Maar weet jy wat die Here regtig gesê het? Die Here het gesê dit sal sleg gaan met jou.”

24. Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op sy kakebeen en hy vra: “Dink jy die gees wat van die Here gekom het, het weggegaan van my om met jóú te praat?”

25. Miga het vir Sedekia gesê: “Jy sal dit sien daardie dag wanneer jy van een kamer na die ander kamer gaan om te probeer wegkruip.”

26. Toe sê die koning van Israel: “Vat vir Miga na Amon die burgemeester en na prins Joas toe

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22