Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:29-42 Bybel vir Almal (ABA)

29. Die twee groepe soldate het sewe dae lank oorkant mekaar in hulle tente gebly. Op die sewende dag het die oorlog begin, en die Israeliete het op een dag 100 000 Arameërs doodgemaak. Dit was voetsoldate.

30. Die Arameërs wat oorgebly het, het in die stad Afeka in gevlug, maar toe het die muur van die stad omgeval op die 27 000 manne wat oorgebly het. Ben-Hadad het in die stad van die een kamer na die ander kamer gevlug.

31. Sy offisiere het vir hom gesê: “Luister asseblief, ons het gehoor dat die konings van Israel genadig is. Ons moet rouklere aantrek en toue om ons koppe bind en ons moet na die koning van Israel toe gaan. Miskien sal hy jou nie doodmaak nie.”

32. Hulle trek toe rouklere aan en hulle bind toue om hulle koppe en hulle gaan na die koning van Israel toe en hulle sê vir hom: “Jou slaaf Ben-Hadad vra: ‘Jy moet my asseblief nie doodmaak nie.’ ”En toe vra Agab: “Lewe Ben-Hadad nog? Hy is my broer!”

33. Die manne het gesien Agab is vriendelik, en hulle het dadelik gesê: “Ja, Ben-Hadad is jou broer.”Agab het gesê: “Gaan haal hom.”Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab gesê hy moet by hom op die oorlogkar klim.

34. Ben-Hadad het vir Agab gesê: “Agab, ek gee die stede terug wat my pa van jou pa gevat het, en jy kan vir jou plekke in die strate van Damaskus maak om goed te koop en te verkoop, soos my pa in Samaria gedoen het.”Agab het vir Ben-Hadad gesê hy sal hom vry laat weggaan as hy ’n ooreenkoms met hom maak. Ben-Hadad het dit gedoen, en Agab het hom laat gaan.

35. Een van die profete het vir sy vriend gesê: “Slaan my, asseblief.”Die Here het gesê hy moet dit sê. Maar sy vriend wou hom nie slaan nie, hy het dit nie gedoen nie.

36. Toe sê die profeet vir sy vriend: “Jy het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Daarom, wanneer jy hier weggaan van my, dan sal ’n leeu jou vang.”En toe die vriend weggaan van die profeet, het ’n leeu hom gevang en hom doodgemaak.

37. Die profeet kom toe by ’n ander vriend en hy sê vir hom: “Slaan my asseblief.”Die man het hom stukkend geslaan.

38. Toe gaan die profeet en hy wag op die pad vir die koning. Die profeet het sy oë met ’n lap toegebind sodat mense nie kan weet wie hy is nie.

39. Toe die koning daar verbykom, skree die profeet en hy vra dat die koning hom moet help. Hy het gesê: “Ek het oorlog toe gegaan, en iemand het ’n man na my toe gebring en vir my gesê: ‘Jy moet hierdie man oppas. As hy vlug en wegkom, dan sal jy sterf in sy plek, of jy moet ’n talent silwer betaal.’

40. Ek was besig met ander dinge en toe ek weer kyk, was die man nie meer daar nie.”Toe sê die koning van Israel vir die profeet: “Jy het self gesê wat met jou moet gebeur, jy is skuldig.”

41. Die profeet ruk toe vinnig die lap van sy oë af, en die koning van Israel sien dat hy een van die profete is.

42. Toe sê die profeet vir die koning: “Die Here sê: Ek wou hê Ben-Hadad moet sterf, maar jy het hom vry laat weggaan. Daarom moet jy nou sterf in sy plek, en jou volk sal sterf in sy volk se plek.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20