Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:21-28 Bybel vir Almal (ABA)

21. Elia het naby al die mense van Israel kom staan en gevra: “Hoe lank wil julle wag voordat julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here God is, dan moet julle Hóm dien. Of, as Baäl God is, dan moet julle hóm dien.”Die mense het hom nie geantwoord nie, hulle het stilgebly.

22. Toe sê Elia vir die mense: “Ek het alleen oorgebly van al die profete van die Here, maar daar is 450 profete van Baäl.

23. Gee vir ons twee bulle. Die profete van Baäl moet vir hulle een bul kies. Hulle moet dit in stukke sny en op die hout op die altaar neersit, maar hulle moenie dan vuur op die altaar begin maak nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal dit op die hout sit en ek sal nie vuur op die altaar maak nie.

24. Dan moet die profete van Baäl tot hulle god bid, en ek sal tot die Here bid. Die god wat met vuur antwoord en wat die hout op die altaar laat brand, Hý is God.”Al die mense het geantwoord: “Dit is goed.”

25. Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle een bul en maak hom eerste gereed, want julle is baie. Julle moet tot julle god bid, maar julle moenie vuur op die altaar maak nie.”

26. Die profete van Baäl het die bul geneem wat Elia vir hulle gegee het. Hulle het dit gereedgemaak en hulle het tot Baäl gebid. Hulle het van die oggend tot die middag aangehou bid en gesê: “Baäl, help ons.”Maar niks het gebeur nie, niemand het geantwoord nie. Die profete van Baäl het nie geweet wat om te doen by die altaar wat hulle gemaak het nie.

27. Toe dit middag word, het Elia hulle gespot en gesê: “Julle moet harder skree, want Baäl is ’n god. Miskien is hy besig om te dink, of miskien is hy in die toilet, of miskien het hy gaan stap. Miskien slaap hy en iemand moet hom gaan wakker maak.”

28. Die profete het hard geskree en hulle het gedoen wat hulle altyd gedoen het wanneer hulle ge-offer het: Hulle het hulleself stukkend gesny met swaarde en spiese totdat hulle rooi van die bloed was.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18