Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:17-34 Bybel vir Almal (ABA)

17. Omri en al die manne van Israel het van Gibbeton na Tirsa gegaan en hulle het die stad van al die kante aangeval.

18. Toe Simri sien dat hulle die stad oorwin, het hy gevlug tot agter die sterk mure van die paleis. Hy het die paleis bo-oor hom aan die brand gesteek en hy het gesterf.

19. Dit het gebeur omdat Simri sonde gedoen het en dinge gedoen het waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen soos Jerobeam, hy het dieselfde sonde gedoen wat Jerobeam gedoen het en wat Jerobeam die mense van Israel laat doen het.

20. Al die ander dinge wat Simri gedoen het en sy planne wat hy gemaak het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

21. Daarna was die mense van Israel verdeel in twee groepe. Een helfte van die volk het vir Tibni seun van Ginat gekies. Hulle wou hom koning maak. Die ander helfte van die mense het vir Omri gekies.

22. Die mense wat vir Omri gekies het, was meer as die mense wat vir Tibni gekies het. Toe Tibni sterf, het Omri koning geword.

23. Omri het koning van Israel geword in die een-en-dertigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was twaalf jaar lank koning, ses jaar lank in Tirsa.

24. Omri het Samaria-berg van Semer gekoop. Hy het vir Semer twee talente silwer daarvoor betaal en hy het daar ’n stad gebou. Hy het die stad Samaria genoem, dit was die naam van die man aan wie die berg behoort het.

25. Omri het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het slegter dinge gedoen as almal voor hom.

26. Hy het alles gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het, al die sondes wat Jerobeam gedoen het en alles wat hy die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien.

27. Al die ander dinge wat Omri gedoen het, ook die belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

28. Omri het gesterf, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Agab het koning geword ná hom.

29. Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag-en-dertigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Agab was 22 jaar lank in Samaria koning van Israel.

30. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het slegter dinge gedoen as almal voor hom.

31. Hy het die sondes gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het, en hy het ook getrou met Isebel, dogter van Etbaäl, koning van die Sidoniërs, en hy het vir Baäl gedien en voor hom gebuig.

32. Agab het vir Baäl ’n altaar gebou by die tempel wat hy in Samaria vir Baäl gebou het.

33. Hy het ook ’n gewyde paal ingeplant. Hy het meer sondes gedoen as al die konings van Israel vóór hom, sondes wat die Here, die God van Israel, kwaad gemaak het.

34. In Agab se tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo weer gebou. Toe hy die fondamente van die stad bou, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die deure in die poorte insit, het sy jongste seun Segub gesterf. Dit het gebeur soos die Here voorheen vir Josua seun van Nun gesê het om vir die mense te sê.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16