Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Jehu seun van Ganani gesê hy moet vir Baesa sê:

2. “Ek het jou uit die stof opgetel en Ek het jou laat regeer oor my volk Israel. Maar jy het gedoen soos Jerobeam gedoen het, jy het my volk Israel sonde laat doen, en hulle het My kwaad gemaak.

3. Daarom sal Ek ’n vuur aansteek teen jou en teen jou koningshuis. Dit sal sleg gaan met jou koningshuis, so sleg soos met die koningshuis van Jerobeam.

4. Wanneer iemand uit jou nageslag in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet.”

5. Al die ander dinge wat Baesa gedoen het, ook die belangrike dinge, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

6. Baesa het gesterf en hulle het hom begrawe in die stad Tirsa. Sy seun Ela het koning geword ná hom.

7. Die Here het ook nog vir Jehu seun van Ganani gestuur om met Baesa en sy familie te praat oor al die dinge wat hy gedoen het. Die Here het nie gehou van die dinge wat hy gedoen het nie, dit het die Here kwaad gemaak. Hy was soos Jerobeam en hy het Jerobeam se hele nageslag vermoor.

8. Ela seun van Baesa het koning van Israel geword in die ses-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Ela was twee jaar lank koning in Tirsa.

9. Ela se offisier Simri was die hoof van die helfte van Ela se oorlogkarre, en Simri het saam met ander manne ’n plan gemaak teen Ela. Ela was besig om te drink en dronk te word in die huis van Arsa, die hoof van die paleis in die stad Tirsa.

10. Simri het daarnatoe gegaan en hy het vir Ela doodgemaak. Dit was in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Simri het koning geword ná Ela.

11. Nadat Simri koning geword het, het hy almal in die koningshuis van Baesa laat doodmaak. Hy het nie een man of seun of iemand in die familie of ’n vriend van Baesa laat lewe nie.

12. Dit het gebeur soos die Here voorheen vir die profeet Jehu gesê het om vir die mense te sê.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16