Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:13-26 Bybel vir Almal (ABA)

13. Die hele Israel sal oor hom rou en hulle sal hom begrawe. Hy is die enigste een van die nageslag van Jerobeam wat hulle in ’n graf sal begrawe, want die Here, die God van Israel, het gesien dat daar in die hele koningshuis van Jerobeam net in hierdie kind iets is wat goed is.

14. Die Here sal self ’n koning laat kom wat almal in die koningshuis van Jerobeam sal doodmaak, en dit sal gou gebeur.

15. Die Here sal op die mense van Israel afkom soos ’n watervloed wat riete laat bewe. Hy sal hulle weggooi uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorvaders gegee het en Hy sal hulle na al die kante toe jaag tot anderkant die Eufraat-rivier. Hy sal dit doen omdat hulle gewyde pale gemaak het en so die Here kwaad gemaak het.

16. Die Here sal Israel los omdat Jerobeam hierdie sonde gedoen het en omdat hy die mense van Israel sonde laat doen het.”

17. Jerobeam se vrou het opgestaan en sy het teruggegaan na die stad Tirsa. Toe sy by die deur van die paleis kom, het die kind gesterf.

18. Die mense van Israel het hom begrawe en hulle het almal oor hom gerou. Die Here het voorheen gesê sy dienaar die profeet Agija moet sê dat dit so sal gebeur.

19. Al die ander dinge wat Jerobeam gedoen het, hoe hy oorlog gemaak het en hoe hy regeer het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

20. Jerobeam was 22 jaar lank koning. Hy het gesterf, en sy seun Nadab het koning geword ná hom.

21. Rehabeam seun van Salomo was koning in die land Juda. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 17 jaar lank koning in Jerusalem. Die Here het Jerusalem gekies van al die stede van die stamme van Israel. Die Here het Jerusalem gekies om aan Hom te behoort. Rehabeam se ma was Naäma, sy was ’n Ammonitiese vrou.

22. Die mense van Juda het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het Hom baie kwaad gemaak omdat hulle daardie sondes gedoen het. Hulle het Hom meer kwaad gemaak as hulle voorvaders.

23. Hulle het ook vir hulle offer-plekke gebou en klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

24. Daar was ook tempel-prostitute in die land. Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen, dinge wat die Here haat. Hulle het dieselfde dinge gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die Israeliete.

25. In die vyfde jaar nadat Rehabeam koning geword het, het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval.

26. Hy het al die kosbare goed in die tempel en in die paleis gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14