Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:2-16 Bybel vir Almal (ABA)

2. Mense wil altyd graag sonde doen, en sonde laat mense altyd sterf. Maar die Heilige Gees het jou vrygemaak en Hy help jou om altyd te doen wat God wil hê. Ja, die Heilige Gees laat jou waarlik lewe, jy wat aan Christus Jesus behoort.

3. God self het gedoen wat sy wette nie kon doen nie, Hy het ons gered. Die wette kon dit nie doen nie omdat mense swak is. God het sy eie Seun gestuur en God het Hom ’n mens laat word, ’n mens soos die mense wat sonde doen, en God het vir Hóm gestraf. So het God die sonde gestraf wat oor die mense regeer het.

4. Nou kan ons regtig doen wat die wette sê, want ons doen nie die slegte dinge wat mense graag doen nie, ons doen wat die Heilige Gees sê ons moet doen.

5. Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen.

6. Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee.

7. Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie.

8. Die mense wat altyd doen wat húlle graag wil doen, kan nie doen wat God wil hê nie.

9. Maar julle doen nie wat julle self wil doen nie, want die Heilige Gees is in julle harte en julle luister na die Heilige Gees, die Gees van God. Mense wat nie die Heilige Gees, die Gees van Christus, in hulle harte het nie, behoort nie aan Christus nie.

10. Julle liggame sal sterf omdat die sonde in die wêreld gekom het. Maar nou is Christus in julle, God het julle vrygespreek en die Heilige Gees laat julle waarlik lewe.

11. Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en God se Gees woon nou in julle harte. Daarom, Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe en God sal eendag ook vir julle weer laat lewe, julle wie se liggame nog sal sterf, maar wat God se Gees in julle harte het.

12. Vriende, ons moet reg lewe. Ons moenie die dinge doen wat mense self graag doen nie, dit is slegte dinge.

13. As julle lewe soos julle self graag wil lewe, dan sal God julle vir altyd laat sterf. Maar as julle na die Heilige Gees luister en julle doen nie wat julle liggame wil hê nie, dan sal God julle vir altyd laat lewe.

14. Want as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan is hulle kinders van God.

15. God het vir julle die Heilige Gees gegee. Daarom is julle nie soos slawe nie, julle moenie bang wees vir God nie. Nee, God het julle aangeneem, julle is nou sy kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê “Vader.”

16. Ja, die Heilige Gees help ons om baie seker te weet dat ons God se kinders is.

Lees volledige hoofstuk Romeine 8