Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 6:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek het gesien die Lam breek een van die sewe seëls van die boekrol. Toe hoor ek een van die vier diere skree, hy het so hard soos donderweer geskree. Hy het gesê: “Jy moet kom!”

2. En toe ek kyk, sien ek daar kom ’n wit perd! Iemand het op die perd gesit. Hy het ’n pyl en boog gehad, en God het vir hom ’n lourier-krans gegee. Die persoon op die perd het altyd sy vyande oorwin, en hy het gekom om te oorwin.

3. Toe die Lam die tweede seël breek, het ek gehoor die tweede dier skree: “Jy moet kom!”

4. En toe kom daar ’n ander perd, ’n bloedrooi perd! Iemand het op die perd gesit. God het vir hom gesê hy mag die vrede van die mense op die aarde wegneem sodat hulle mekaar sal doodmaak. God het vir hom ’n groot swaard gegee.

5. Toe die Lam die derde seël breek, het ek gehoor die derde dier skree: “Jy moet kom!”Ek het gekyk en toe sien ek daar kom ’n swart perd! Iemand het op die perd gesit. Hy het ’n weegskaal in sy hand gehad.

6. Ek het gehoor Iemand praat. Hy was tussen die vier diere. Hy het gesê: “Iemand sal vir een goiniks koring of vir drie goiniks gars een silwer geldstuk moet betaal. En julle moet versigtig wees, moenie die olyf-olie en die wyn mors nie.”

7. En toe die Lam die vierde seël oopmaak, het ek gehoor die vierde dier skree: “Jy moet kom!”

8. Ek het gekyk en toe sien ek ’n vaal-groen perd kom! Iemand het op die perd gesit. Sy naam was Dood. Die doderyk het saam met hom gegaan. God het vir Dood en vir die doderyk gesê hulle mag ’n kwart van al die mense op die aarde doodmaak met oorloë en honger en pes en wilde diere.

9. Toe die Lam die vyfde seël van die boekrol breek, het ek die gelowiges gesien wat dood is, hulle was onder die altaar in die hemel. Die mense het daardie gelowiges doodgemaak omdat hulle geglo het wat God sê en omdat hulle vir ander mense vertel het wat hulle glo.

10. Die gelowiges het hard geskree en gevra: “Here, U wat heilig is en wat altyd dieselfde bly, hoe lank sal dit nog wees voordat U die mense op die aarde sal oordeel en hulle sal straf omdat hulle ons doodgemaak het?”

11. Toe het God vir hulle elkeen wit klere gegee. En Hy het vir hulle gesê hulle moet ’n kort tydjie wag, want die mense sal nog ander dienaars van God ook doodmaak. Hulle moet wag totdat daardie ander gelowiges ook almal dood is.

12. Toe die Lam die sesde seël van die boekrol breek, sien ek daar is ’n groot aardbewing. Die son het donker geword, soos swart rouklere, en die maan het rooi geword soos bloed.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 6