Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:16-30 Bybel vir Almal (ABA)

16. Niemand maak ou klere reg met ’n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word.

17. Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, ’n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi, dan sal hy nie die sakke of die wyn verloor nie.”

18. Jesus was besig om met hulle te praat, toe kom daar een van die leiers van daardie stad na Hom toe. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesê: “My dogter het nou gesterf. Maar as U kom en u hand op haar sit, dan sal sy weer lewe.”

19. Jesus het opgestaan en Hy het saam met die man gegaan, en sy dissipels het saamgegaan.

20. Terwyl hulle loop, het daar ’n vrou van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy was siek, sy het twaalf jaar lank aangehou bloei.

21. Sy het gedink: As ek net aan Jesus se klere kan raak, dan sal ek gesond word.

22. Jesus het omgedraai en haar gesien. Toe sê Hy vir haar: “Mevrou, moenie bekommerd wees nie. Jy het nou gesond geword, want jy het geglo.”Die vrou het toe dadelik gesond geword.

23. Jesus het by die huis van die Joodse leier gekom. Hy sien toe die mense wat altyd op fluite speel by begrafnisse, en baie mense wat hard huil en treur.

24. Hy sê toe vir hulle: “Gaan weg. Die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”Maar die mense het gelag omdat Jesus gesê het sy slaap.

25. Jesus het eers al die mense uitgejaag, en toe het Hy in die dogtertjie se kamer ingegaan. Hy het haar hand geneem, en sy het opgestaan.

26. Die mense het vir almal in daardie deel van die land vertel wat gebeur het.

27. Jesus het verder gegaan. Twee blindes het agter Hom geloop. Hulle het aangehou om hard te sê: “Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en help ons!”

28. Toe Jesus by die huis kom, het die blindes nader gekom na Hom toe. Hy het vir hulle gevra: “Glo julle dat Ek julle gesond kan maak?”Hulle het vir Jesus gesê: “Ja, Here.”

29. Toe raak Jesus aan hulle oë en Hy sê: “Julle glo dat Ek julle gesond kan maak. Daarom sal dit nou gebeur.”

30. Hulle oë het gesond geword, en hulle kon sien. Jesus het ernstig met hulle gepraat en gesê: “Julle moenie vir iemand hiervan vertel nie.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 9