Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus het afgekom van die berg, en baie mense het saam met Hom gegaan.

2. Daar kom toe ’n melaatse man na Jesus toe en hy kniel voor Hom. Hy het vir Jesus gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3. Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.”Die man het dadelik gesond geword. Hy was nie meer melaats nie.

4. Jesus het vir die man gesê: “Jy mag vir niemand vertel Ek het jou gesond gemaak nie. Maar gaan wys vir die priester jy is gesond, en bring dan die offer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal die priesters weet jy het rein geword.”

5. Jesus het na die stad Kapernaum gegaan. Toe Hy in die stad inkom, het ’n Romeinse offisier na Hom toe gekom. Hy het gesoebat dat Jesus hom moet help.

6. Hy het vir Jesus gesê: “Here, my slaaf lê baie siek by die huis. Hy kan nie beweeg nie, hy is lam en hy het baie pyn.”

7. Jesus sê toe vir hom: “Ek sal na jou huis kom en Ek sal hom gesond maak.”

8. Maar die offisier sê vir Jesus: “Nee, Here, ek is nie ’n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kan inkom nie. U kan net sê die siekte moet weggaan, dan sal my slaaf gesond word.

9. Ek is self ’n man wat moet doen wat ’n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een van hulle sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir ’n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.”

10. Toe Jesus hoor wat die offisier gesê het, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir al die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek het nog nooit ’n Israeliet gesien wat so sterk glo soos hierdie man glo nie.

11. Ek sê vir julle: Baie mense sal eendag kom van oral op die aarde. Hulle sal saam met Abraham, Isak en Jakob kom eet en feesvier in die hemel waar God die Koning is.

12. Maar die mense wat dink net húlle is die kinders van Abraham, Isak en Jakob, en wat dink God is net húlle koning, God sal hulle uitgooi in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.”

13. Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug na jou huis. Wat jy geglo het, sal gebeur.”En sy slaaf het presies op daardie tyd gesond geword.

14. Jesus het na Petrus se huis gegaan. Hy het gesien Petrus se skoonma is siek in die bed en sy het ’n hoë koors.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8