Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:2-14 Bybel vir Almal (ABA)

2. Maar Jesus het vir hulle gevra: “Sien julle al hierdie geboue? Ek sê vir julle, en dit is seker: Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie.”

3. Jesus het op die Olyf-berg gaan sit. Die dissipels het toe na Hom toe gekom, en hulle was alleen. Hulle het vir Hom gevra: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur waarvan U gepraat het? Watter teken sal vir ons wys dat U sal kom en wanneer dit die einde van die wêreld sal wees?”

4. Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie,

5. want baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ En hulle sal baie mense bedrieg.

6. Julle sal hoor daar is oorlog, naby julle of ver van julle. Pasop, julle moenie skrik wanneer julle dit hoor nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar dit is dan nog nie die einde van alles nie.

7. Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van ’n ander land veg. Mense sal min kos hê om te eet. Daar sal ook aardbewings op baie plekke wees.

8. Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry.

9. Dan sal mense julle vir ander mense gee, en daardie mense sal julle verdruk en doodmaak. Al die volke sal julle haat omdat julle aan My behoort.

10. Dan sal baie mense ophou om in My te glo. Hulle sal mekaar verraai en hulle sal mekaar vir die vyand gee. Hulle sal mekaar haat.

11. Daar sal baie vals profete kom en hulle sal vir baie mense verkeerd leer.

12. Meer en meer mense sal nie doen wat God se wette sê nie, en daarom sal die liefde van die meeste mense min word.

13. Maar as iemand tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God hom red.

14. In die hele wêreld sal mense hierdie goeie boodskap bring, die boodskap dat God Koning is. Al die volke sal dit kan hoor. Daarna sal die einde van die wêreld kom.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 24