Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:10-22 Bybel vir Almal (ABA)

10. Die dissipels was gehoorsaam, maar hulle het met mekaar gepraat en gevra wat dit beteken om weer te begin lewe.

11. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes Elia moet kom voordat die Messias kom?”

12. Jesus het vir hulle gesê: “Elia moet eers kom om alles gereed te maak. Maar hoekom het die profete geskryf dat Ek, die Seun van die mens, baie swaar moet kry en dat die mense slegte dinge sal doen aan My?

13. Ek sê vir julle: Elia het al klaar gekom, en die mense het met hom alles gedoen wat hulle wou doen. Dit het gebeur soos die profete oor hom geskryf het.”

14. Daarna het Jesus en die drie dissipels teruggegaan na die ander dissipels toe. Hulle het gesien daar is ’n groot klomp mense rondom die ander dissipels. Die skrifgeleerdes was besig om met die dissipels te stry.

15. Toe die mense vir Jesus sien, was hulle baie verbaas. Hulle het na Hom toe gehardloop en hulle het Hom gegroet.

16. Jesus het vir die skrifgeleerdes gevra: “Hoekom stry julle met my dissipels?”

17. Een van die mense het vir Jesus geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring, want daar is ’n onrein gees in hom wat hom stom maak.

18. Wanneer die onrein gees in die seun kom, dan gooi hy die seun op die grond. Dan kry die seun skuim om sy mond, hy byt op sy tande en sy liggaam word heeltemal styf. Ek het vir u dissipels gevra om die onrein gees uit te jaag, maar hulle kon nie.”

19. Jesus het vir hulle gesê: “Julle glo nie! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun na My toe.”

20. Hulle het die seun na Jesus toe gebring. Toe die onrein gees vir Jesus sien, het hy dadelik die seun op die grond laat val. Die seun het geruk en geskop en daar was skuim om sy mond.

21. Jesus het vir die seun se pa gevra: “Van wanneer kom die onrein gees in jou seun?”Die pa het gesê: “Vandat hy klein was.

22. Baie maal het die onrein gees hom in vuur en in die water laat val om hom dood te maak. As U kan, dan moet U asseblief jammer wees vir ons en ons help!”

Lees volledige hoofstuk Markus 9