Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:42-56 Bybel vir Almal (ABA)

42. Almal het genoeg geëet.

43. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het.

44. Daar was baie mense wat van die kos geëet het. Die mans was omtrent 5 000.

45. Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en hulle moet voor Hom na die ander kant van die see gaan, na die stad Betsaida. Jesus het agtergebly en vir die mense gesê hulle moet huis toe gaan.

46. Jesus het die mense gegroet, en toe het Hy na die berg gegaan om te bid.

47. Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land.

48. Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom.

49. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is ’n spook en hulle het hard geskree.

50. Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.”

51. Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas.

52. Hulle het ook nie verstaan wat dit beteken het toe Jesus die brood meer gemaak het nie. Maar hulle was hardkoppig, hulle wou nie verstaan nie.

53. Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret gekom. Hulle het die boot daar vasgemaak.

54. Toe hulle uit die boot klim, het die mense dadelik gesien dit is Jesus.

55. Die mense het na al die plekke gehardloop, en hulle het die siek mense op hulle slaapmatte na Jesus toe gedra.

56. Op elke dorpie, in elke stad en op elke plaas waar Jesus gekom het, het hulle die siek mense op die oop plekke neergesit. Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

Lees volledige hoofstuk Markus 6