Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:29-43 Bybel vir Almal (ABA)

29. Toe Johannes se dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en hulle het sy lyk weggeneem en begrawe.

30. Die apostels het teruggekom na Jesus toe en hulle het vir Hom alles vertel wat hulle gedoen het en wat hulle vir die mense geleer het.

31. Mense het aanhoudend na Jesus toe gekom en hulle het nie tyd gehad om te eet nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Julle moet saam met My na ’n stil plek gaan sodat julle ’n bietjie kan rus.”

32. Hulle het in ’n boot weggegaan na ’n stil plek om alleen te wees.

33. Baie mense het gesien Jesus en sy dissipels gaan weg en hulle het geweet waarnatoe hulle gaan. Die mense het van verskillende stede vinnig na die plek gehardloop. Hulle het voor Jesus en sy dissipels daar aangekom.

34. Jesus het uit die boot geklim, en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy was bekommerd oor hulle, want hulle was soos skape wat nie ’n skaapwagter het nie. Jesus het begin om vir die mense baie dinge te leer.

35. Dit het laat geword, en Jesus se dissipels het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Hierdie plek is ver van ’n stad en dit is al laat.

36. Stuur die mense weg sodat hulle na die plase en dorpies hier naby kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.”

37. Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.”Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?”

38. Jesus het vir hulle gevra: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.”Die dissipels het gaan kyk en hulle sê toe vir Jesus: “Ons het vyf brode en twee visse.”

39. Jesus het gesê hulle moet al die mense in groepe bymekaar op die groen gras laat sit om te eet.

40. Die mense het gaan sit. In party groepe was daar 100 mense, en in ander groepe was daar 50 mense.

41. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Hy het ook die twee visse verdeel en vir al die mense daarvan gegee.

42. Almal het genoeg geëet.

43. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het.

Lees volledige hoofstuk Markus 6