Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:34-45 Bybel vir Almal (ABA)

34. Jesus het baie mense gesond gemaak wat verskillende soorte siektes gehad het. Hy het ook baie duiwels uit die mense gejaag. Jesus het gesê die duiwels mag nie praat nie, want die duiwels het geweet wie Hy is.

35. Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na ’n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid.

36. Simon en sy vriende het vir Jesus gaan soek

37. en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38. Maar Jesus antwoord hulle: “Kom ons gaan weg na die stede hier naby, want Ek wil daar ook gaan preek. Dit is hoekom Ek gekom het.”

39. Jesus het toe deur die hele provinsie Galilea gegaan en Hy het in hulle sinagoges gepreek. Hy het ook duiwels uit mense uitgejaag.

40. ’n Melaatse man het na Jesus toe gekom. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesoebat: “As U wil, dan kan U my gesond maak.”

41. Jesus was baie jammer vir die man. Hy het sy hand uitgesteek en Hy het aan hom geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.”

42. Dadelik was die man nie meer melaats nie, hy het gesond geword.

43-44. Jesus het ernstig met die man gepraat en vir hom gesê: “Jy mag vir niemand hiervan vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond, en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.”Daarna het Jesus die man weggestuur.

45. Maar die man het gegaan en hy het oral vir al die mense vertel dat Jesus hom gesond gemaak het. Daarom kon Jesus nie meer in ’n stad inkom waar almal Hom kon sien nie. Hy het buite in die veld gebly, maar die mense het nog van oral na Hom toe gekom.

Lees volledige hoofstuk Markus 1