Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus het die twaalf dissipels geroep. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag en siek mense gesond te maak.

2. Hy het die dissipels gestuur om vir die mense te vertel God is Koning en Hy regeer. Die dissipels moes ook siek mense gesond maak.

3. Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle mag niks saamneem wanneer julle gaan nie. Julle mag nie ’n kierie of ’n rugsak of kos of geld saamneem nie. Julle mag net die klere saamneem wat julle aanhet.

4. As mense julle uitnooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad.

5. En as die mense julle nie daar wil laat bly nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.”

6. Die dissipels het na al die dorpies gegaan en hulle het die goeie boodskap vir die mense gebring. Hulle het ook oral mense gesond gemaak.

7. Koning Herodes het gehoor van al die dinge wat gebeur het. Hy het baie gewonder wie Jesus is, want die mense het baie verskillende dinge oor Jesus gesê. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer.”

8. Party mense het gesê: “Jesus is Elia wat nou gekom het.”Ander mense het gesê: “Jesus is ’n profeet, hy is een van die profete wat lank gelede gelewe het, en wat nou weer lewe.”

9. Maar Herodes het gesê: “Nee, Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap. Ek hoor al die dinge van hierdie man, maar ek weet nie wie hy is nie.”Herodes wou graag self vir Jesus sien.

10. Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus vertel wat hulle alles gedoen het. Daarna het Jesus gesê hulle moet saam met Hom gaan na die stad Betsaida sodat hulle alleen kon wees.

11. Maar toe die mense hoor waarnatoe hulle gaan, het hulle ook daarnatoe gegaan. Jesus het vir hulle gewag. Toe praat Hy met hulle en sê vir hulle God is Koning en Hy regeer. Jesus het ook die mense gesond gemaak wat graag gesond wou word.

12. Dit het laat geword, en die twaalf dissipels het na Jesus toe gekom en gesê: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpies en plase hier naby kan gaan om slaapplek en kos te kry. Hier waar ons is, is niks kos nie.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9