Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:20-38 Bybel vir Almal (ABA)

20. Johannes se dissipels het by Jesus gekom en gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om vir U te vra of U die Christus is wat moes kom, en of ons vir ’n ander Een moet wag.”

21. Jesus was besig om baie mense gesond te maak wat siek was. Hy het ook bose geeste uit mense gejaag en Hy het baie blinde mense weer laat sien.

22. Jesus sê toe vir Johannes se dissipels: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is weer gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is.

23. En God sal mense seën wat aanhou om in My te glo.”

24. Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets oor Johannes vertel. Jesus het gevra: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos ’n riet in die wind heen en weer waai? Nee!

25. Het julle gedink julle sal ’n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee, die mense wat mooi klere aantrek en blink goed het, woon in konings se paleise.

26. Maar wat wou julle gaan sien? ’n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as ’n profeet gesien.

27. God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het:“Kyk, Ek stuur my boodskapper.Hy sal voor jou gaan en hy saldie pad gereedmaak vir jou.

28. “Ek sê vir julle, niemand is belangriker as Johannes nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar wanneer God Koning is, dan is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes.”

29. Al die mense, ook die tollenaars, het gedink God oordeel reg oor hulle, en daarom het hulle gevra dat Johannes hulle moet doop.

30. Maar die Fariseërs en die skrifgeleerdes wou nie vir Johannes vra om hulle te doop nie, want hulle wou nie God se plan aanvaar nie, God se plan om hulle te red.

31. Jesus het ook gesê: “Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe?

32. Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit. Party kinders sê: ‘Ons het vir julle trou-musiek op die fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie.’ En die ander kinders sê: ‘Ons het vir julle ’n begrafnis-lied gesing, maar julle wou nie huil nie.’

33. So doen die mense ook met Johannes die Doper en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie saam feesgevier nie. Toe sê julle: ‘Daar is ’n duiwel in hom.’

34. Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê julle: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronklap. En Hy is ook ’n vriend van die tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’

35. Die mense wat regtig weet wat die wysheid van God is, is die mense wat in My en Johannes geglo het.”

36. Een van die Fariseërs het vir Jesus genooi om by hom te kom eet. Jesus het by die Fariseër se huis gekom en Hy het by die tafel gaan sit.

37. Daar was ’n slegte vrou in die stad, almal het geweet sy is ’n slegte vrou. Sy het gehoor Jesus is by die huis van die Fariseër om daar te eet. Sy neem toe ’n klip-kruikie met lekkerruik-olie

38. en sy gaan sit by Jesus se voete. Sy het aangehou huil. Sy het Jesus se voete met haar trane natgemaak en met haar hare afgedroog. Toe soen sy Jesus se voete en gooi die olie op sy voete.

Lees volledige hoofstuk Lukas 7