Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:35-49 Bybel vir Almal (ABA)

35. “Nee, julle moet anders wees. Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir mense, julle moet vir hulle dinge leen, maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie. Dan sal die Here goeie dinge vir julle gee. Julle sal kinders van die Hoogste God wees. Want God is goed vir almal, ook vir die mense wat nie dankbaar is nie en wat sleg is.

36. Julle moet jammer wees vir ander mense, soos julle Vader jammer is vir almal.”

37. “Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. Ja, julle moenie altyd ander mense wil oordeel nie, dan sal niemand vir julle wil oordeel nie. Julle moet ander mense vergewe, dan sal God julle ook vergewe.

38. “Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen.”

39. Jesus het die volgende voorbeelde gebruik om vir hulle nog iets te sê: “’n Blinde mens kan nie ’n ander blinde mens lei nie. Want hulle sal saam in ’n sloot val.

40. “’n Dissipel is nie belangriker as die meneer by wie hy leer nie. Maar as hy alles geleer het, dan sal hy wees soos sy meneer.

41. Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie?

42. Jy sê vir jou broer: ‘Ek wil daardie stukkie hout uithaal uit jou oog,’ maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie. As jy dit doen, dan is jy ’n skynheilige mens. Nee, jy moet eers die groot stuk hout uit jou eie oog haal, dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal.“’n Mens ken ’n boom wanneer jy sien watter vrugte die boom dra.

43. ’n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en ’n slegte boom dra nie goeie vrugte nie.

44. Hoe weet ’n mens watter soort boom dit is? Jy kyk na die boom se vrugte. ’n Mens pluk nie vye van ’n doringboom nie. Jy kan ook nie druiwe van ’n doringbos pluk nie.

45. Dit is dieselfde by mense: ’n Goeie mens praat en doen goeie dinge omdat hy in sy hart goed is. En ’n slegte mens praat en doen slegte dinge omdat hy in sy hart sleg is. Ja, ’n mens praat oor die baie dinge wat in sy hart is.”

46. “Hoekom sê julle so baie maal Ek is julle Here, maar julle doen nie wat Ek sê nie?

47. Ek sal vir julle verduidelik hoe is iemand wat na My toe kom en hoor wat Ek sê en wat dit doen.

48. Hy is soos ’n man wat ’n huis gebou het, en hy het die fondament van die huis diep in die grond gegrawe, tot op die rots. Toe kom daar ’n watervloed. Die rivier het vol water geword en die water het tot teen die huis gekom. Maar die rivier kon nie die huis wegspoel nie, want die man het die fondament goed gebou.

49. Maar hoe is iemand wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie? Hy is soos ’n man wat sy huis bo-op die grond gebou het. Die huis het nie ’n fondament gehad nie. Toe die rivier vol water word en tot teen die huis kom, het die huis dadelik inmekaar geval. Daar het niks van die huis oorgebly nie.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 6