Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:37-54 Bybel vir Almal (ABA)

37. Toe Jesus klaar gepraat het, het ’n Fariseër Hom uitgenooi om by sy huis te kom eet. Toe Jesus daar kom, het Hy dadelik by die tafel gaan sit.

38. Die Fariseër het dit gesien en hy was verbaas omdat Jesus nie eers sy hande gewas het voordat Hy by die tafel gaan sit het nie.

39. Die Here het gesien die Fariseër is verbaas, en Hy sê vir hom: “Julle Fariseërs maak ook die buitekant van bekers en borde skoon, maar julle is heeltemal sleg binne-in julleself en julle wil altyd meer en meer goed hê.

40. Julle is baie dom. God het nie net julle buitekant gemaak nie, Hy het ook julle binnekant gemaak.

41. Daarom moet julle van die kos wat in julle bekers en op julle borde is, vir die arm mense gee. As julle dit doen, dan wys julle dat julle binne-in heeltemal rein is.

42. Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle gee tiendes, ook van kruisement en wynruit, ja, van elke soort kruie. Maar God wil ook hê julle moet reg doen aan mense en julle moet goed wees vir hulle, maar julle doen dit nie. Julle moet dit doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie.

43. Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle wil op die belangrikste plekke in die sinagoges sit, en julle wil hê die ander mense moet julle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom.

44. Dit sal sleg gaan met julle, want julle is soos grafte wat ’n mens nie kan sien nie. Mense loop bo-oor die grafte, en hulle weet dit nie en hulle word onrein.”

45. Toe kla een van die skrifgeleerdes en hy sê vir Jesus: “Meneer, wanneer U hierdie slegte dinge sê oor die Fariseërs, dan praat U ook sleg van ons, die skrifgeleerdes.”

46. En Jesus sê: “Skrifgeleerdes, dit sal met julle ook sleg gaan, want julle wil hê mense moet dinge doen wat vir hulle baie moeilik is. Hulle moet gehoorsaam wees aan die wette wat julle maak, maar julle doen niks om hulle te help nie.

47. Dit sal sleg gaan met julle, want julle maak die grafte van die profete mooi, maar dit is julle voorouers wat die profete doodgemaak het.

48. Julle voorouers het die profete doodgemaak en julle maak die grafte van die profete mooi. Dit wys julle dink wat julle voorouers gedoen het, is goed en reg.

49. En so word dit waar wat God gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na my mense toe stuur, maar die mense sal party van die profete en apostels laat swaarkry en die mense sal party van hulle doodmaak.’

50. Vandat die wêreld begin het, het mense profete vermoor, en God sal die mense wat nou lewe, daaroor straf.

51. Hulle het begin by Abel. Hulle het hom vermoor en hulle het aangehou om profete te vermoor totdat hulle ook die profeet Sagaria vermoor het. Hulle het hom vermoor tussen die altaar en die tempel. Ja, Ek sê vir julle, die mense wat nou lewe, sal swaarkry omdat hulle voorouers die boodskappers van God vermoor het.

52. Skrifgeleerdes, dit sal sleg gaan met julle, want julle het die sleutel van die deur weggegooi. Dit is die deur waar julle moet ingaan om God te leer ken. Julle gaan self nie in by daardie deur nie, en julle keer ook die mense wat daar wil ingaan.”

53. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs was van toe af Jesus se vyande. Toe Hy uit die huis gaan, het hulle Hom oor baie dinge uitgevra.

54. Hulle het gewag dat Hy iets verkeerd sê.

Lees volledige hoofstuk Lukas 11