hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11 Bybel vir Almal (ABA)

Hoe die dissipels moet bid

1. Eendag was Jesus besig om te bid. Toe Hy klaar gebid het, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer vir ons hoe ons moet bid, soos Johannes die Doper ook vir sy dissipels geleer het.”

2. Jesus sê toe vir hulle: “Wanneer julle bid, dan moet julle sê:“Vader,ons bid dat al die menseu heilige Naam sal eeromdat U God is.Ons bid dat die tyd moet komwanneer almal sal weetU is Koning.

3. Gee vir ons die koswat ons elke dag nodig het.

4. En vergewe ons alleswat ons verkeerd gedoen het,want ons vergewe ook ander mensewat teen ons verkeerdgedoen het.Help ons dat niks sal gebeurwat ons verkeerdsal laat doen nie.”

5. Jesus het vir hulle nog meer geleer oor gebed. Hy het gesê: “Dink aan ’n goeie vriend van jou, ’n vriend vir wie jy enige iets kan vra. Jy gaan in die middel van die nag na jou vriend toe en jy vra vir hom: ‘My vriend, leen asseblief vir my drie brode,

6. want ’n ander vriend van my het nou skielik by my aangekom. Hy het ver geloop, en ek het niks wat ek vir hom kan gee om te eet nie.’ ”

7. Jesus vra toe vir hulle: “Wat dink jy sal jou goeie vriend wat in sy huis is, antwoord? Sal hy sê: ‘Jy moenie vir my pla nie. Ek het al klaar die deur gesluit, en my kinders is saam met my in die bed. Ek kan nie nou opstaan en vir jou brood gee nie.’ Dink julle hy sal dit sê?

8. Nee, Ek sê vir julle, hy sal dadelik opstaan en vir jou die brood gee. Hy sal opstaan en vir jou alles gee wat jy nodig het, omdat jy sy vriend is. Hy sal dit vir jou doen omdat jy sy vriend is. En as hy dit nie dáárom doen nie, dan sal hy dit doen omdat jy aangehou het om te vra.

9. Daarom sê Ek vir julle: Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle gee wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak.

10. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak.

11. Wanneer ’n seun vir sy pa ’n vis vra, dan sal sy pa nie vir hom ’n slang gee nie.

12. En wanneer die seun vir sy pa ’n eier vra, dan sal sy pa nie vir hom ’n skerpioen gee nie.

13. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir julle iets gee wat nog beter is. Hy wil die Heilige Gees uit die hemel gee vir die mense wat dit vir Hom vra.”

Mense sê Beëlsebul help vir Jesus

14. Jesus was besig om ’n duiwel uit ’n man te jaag. Die duiwel het die man stom gemaak. Nadat die duiwel uitgegaan het, kon die man weer praat. Al die mense was verbaas.

15. Maar party mense het gesê: “Beëlsebul, die leier van die duiwels, help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.”

16. Ander mense wou vir Jesus toets, hulle wou hê Jesus moet bewys dat Hy van God kom. Hulle wou hê Hy moet vir hulle ’n wonderteken wys.

17. Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en daarom het Hy vir hulle gesê: “Vyande sal enige land oorwin waar die mense nie met mekaar kan saamwerk nie. Hulle sal al die huise afbreek, die een huis ná die ander huis.

18. As die Satan teen homself is, dan kan hy niks meer doen nie en hy kan oor niemand regeer nie. Julle sê Beëlsebul help My om die duiwels uit te jaag.

19. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help vir julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is.

20. Dit is die krag van God wat My help om duiwels uit te jaag. Dit bewys dat God die Koning is wat begin het om oor julle te regeer.

21. ’n Sterk man wat baie wapens het en wat sy huis goed oppas, sy goed is veilig.

22. Maar as ’n ander man wat sterker is, hom aanval en wen, dan vat die sterker man al die wapens wat die sterk man gedink het sal hom help en beskerm. Dan gee die sterker man alles wat hy gevat het, vir ander mense.

23. Iemand wat nie vir My is nie, is teen My. Iemand wat My nie help om mense na God toe te bring nie, jaag die mense weg van Hom.”

Slegte mense sal nog slegter word

24. “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek ’n plek waar hy kan woon. As hy nie ’n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, die mens in wie ek gewoon het.’

25. Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos ’n huis wat skoon en netjies is.

26. Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle gaan almal saam, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was.”

Wanneer is ’n mens waarlik gelukkig?

27. Toe Jesus hierdie dinge sê, het ’n vrou wat tussen die mense was, hard vir Hom gesê: “Die vrou wat vir U in haar liggaam gedra het, en wat vir U aan haar bors laat drink het, daardie vrou is baie gelukkig.”

28. Maar Jesus het gesê: “Die mense wat waarlik gelukkig is, is die mense wat die woord van God hoor en doen wat God wil hê.”

Die wonderteken van Jona

29. Meer en meer mense het rondom Jesus kom staan. Jesus het begin praat en Hy het gesê: “Die slegte mense wat nou lewe, wil ’n wonderteken hê, hulle wil ’n bewys sien. Maar God sal nie vir hulle ’n wonderteken wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, dit is die teken van Jona.

30. Jona was ’n teken vir die mense van die stad Nineve, en so sal Ek, die Seun van die mens, ook vir julle ’n teken wees.

31. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo.

32. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona.”

Die lig vir die wêreld

33. Jesus het ook gesê: “Iemand wat ’n lamp opsteek, steek nie die lamp weg in die stoorkamer of maak dit toe met ’n emmer nie. Nee, ’n mens sit die lamp op die plek waar die lamp moet staan sodat almal wat inkom, die lig kan sien.

34. Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry, en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie.

35. Daarom moet jy seker maak dat daar altyd lig in jou is, en nie donker nie.

36. As jou lewe vol lig is, dan sal jy vol lig wees soos wanneer ’n lamp se lig op jou skyn.”

Jesus praat kwaai met die Fariseërs en die skrifgeleerdes

37. Toe Jesus klaar gepraat het, het ’n Fariseër Hom uitgenooi om by sy huis te kom eet. Toe Jesus daar kom, het Hy dadelik by die tafel gaan sit.

38. Die Fariseër het dit gesien en hy was verbaas omdat Jesus nie eers sy hande gewas het voordat Hy by die tafel gaan sit het nie.

39. Die Here het gesien die Fariseër is verbaas, en Hy sê vir hom: “Julle Fariseërs maak ook die buitekant van bekers en borde skoon, maar julle is heeltemal sleg binne-in julleself en julle wil altyd meer en meer goed hê.

40. Julle is baie dom. God het nie net julle buitekant gemaak nie, Hy het ook julle binnekant gemaak.

41. Daarom moet julle van die kos wat in julle bekers en op julle borde is, vir die arm mense gee. As julle dit doen, dan wys julle dat julle binne-in heeltemal rein is.

42. Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle gee tiendes, ook van kruisement en wynruit, ja, van elke soort kruie. Maar God wil ook hê julle moet reg doen aan mense en julle moet goed wees vir hulle, maar julle doen dit nie. Julle moet dit doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie.

43. Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle wil op die belangrikste plekke in die sinagoges sit, en julle wil hê die ander mense moet julle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom.

44. Dit sal sleg gaan met julle, want julle is soos grafte wat ’n mens nie kan sien nie. Mense loop bo-oor die grafte, en hulle weet dit nie en hulle word onrein.”

45. Toe kla een van die skrifgeleerdes en hy sê vir Jesus: “Meneer, wanneer U hierdie slegte dinge sê oor die Fariseërs, dan praat U ook sleg van ons, die skrifgeleerdes.”

46. En Jesus sê: “Skrifgeleerdes, dit sal met julle ook sleg gaan, want julle wil hê mense moet dinge doen wat vir hulle baie moeilik is. Hulle moet gehoorsaam wees aan die wette wat julle maak, maar julle doen niks om hulle te help nie.

47. Dit sal sleg gaan met julle, want julle maak die grafte van die profete mooi, maar dit is julle voorouers wat die profete doodgemaak het.

48. Julle voorouers het die profete doodgemaak en julle maak die grafte van die profete mooi. Dit wys julle dink wat julle voorouers gedoen het, is goed en reg.

49. En so word dit waar wat God gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na my mense toe stuur, maar die mense sal party van die profete en apostels laat swaarkry en die mense sal party van hulle doodmaak.’

50. Vandat die wêreld begin het, het mense profete vermoor, en God sal die mense wat nou lewe, daaroor straf.

51. Hulle het begin by Abel. Hulle het hom vermoor en hulle het aangehou om profete te vermoor totdat hulle ook die profeet Sagaria vermoor het. Hulle het hom vermoor tussen die altaar en die tempel. Ja, Ek sê vir julle, die mense wat nou lewe, sal swaarkry omdat hulle voorouers die boodskappers van God vermoor het.

52. Skrifgeleerdes, dit sal sleg gaan met julle, want julle het die sleutel van die deur weggegooi. Dit is die deur waar julle moet ingaan om God te leer ken. Julle gaan self nie in by daardie deur nie, en julle keer ook die mense wat daar wil ingaan.”

53. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs was van toe af Jesus se vyande. Toe Hy uit die huis gaan, het hulle Hom oor baie dinge uitgevra.

54. Hulle het gewag dat Hy iets verkeerd sê.