Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:24-37 Bybel vir Almal (ABA)

24. “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek ’n plek waar hy kan woon. As hy nie ’n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, die mens in wie ek gewoon het.’

25. Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos ’n huis wat skoon en netjies is.

26. Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle gaan almal saam, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was.”

27. Toe Jesus hierdie dinge sê, het ’n vrou wat tussen die mense was, hard vir Hom gesê: “Die vrou wat vir U in haar liggaam gedra het, en wat vir U aan haar bors laat drink het, daardie vrou is baie gelukkig.”

28. Maar Jesus het gesê: “Die mense wat waarlik gelukkig is, is die mense wat die woord van God hoor en doen wat God wil hê.”

29. Meer en meer mense het rondom Jesus kom staan. Jesus het begin praat en Hy het gesê: “Die slegte mense wat nou lewe, wil ’n wonderteken hê, hulle wil ’n bewys sien. Maar God sal nie vir hulle ’n wonderteken wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, dit is die teken van Jona.

30. Jona was ’n teken vir die mense van die stad Nineve, en so sal Ek, die Seun van die mens, ook vir julle ’n teken wees.

31. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo.

32. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona.”

33. Jesus het ook gesê: “Iemand wat ’n lamp opsteek, steek nie die lamp weg in die stoorkamer of maak dit toe met ’n emmer nie. Nee, ’n mens sit die lamp op die plek waar die lamp moet staan sodat almal wat inkom, die lig kan sien.

34. Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry, en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie.

35. Daarom moet jy seker maak dat daar altyd lig in jou is, en nie donker nie.

36. As jou lewe vol lig is, dan sal jy vol lig wees soos wanneer ’n lamp se lig op jou skyn.”

37. Toe Jesus klaar gepraat het, het ’n Fariseër Hom uitgenooi om by sy huis te kom eet. Toe Jesus daar kom, het Hy dadelik by die tafel gaan sit.

Lees volledige hoofstuk Lukas 11