Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 2:7-14 Bybel vir Almal (ABA)

7. Christus maak julle geloof sterk, soos ’n wortel ’n boom sterk maak en soos ’n fondament ’n huis sterk maak. En julle moet aanhou om die dinge te glo wat julle geleer het, en julle moet altyd vir God dankie sê vir alles.

8. Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie. Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie. Die dinge wat hulle sê, kom van die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer.

9. Daardie mense praat nie die waarheid nie, want Christus, die Seun wat ’n mens geword het, is ook God en Hy is so sterk soos God.

10. Julle behoort aan Christus. Christus het julle gered, en julle is heeltemal soos Hy wil hê julle moet wees. Christus is sterker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer.

11. Julle behoort aan Christus. Soos wanneer mense iemand besny, so het Hy julle lus om sonde te doen, heeltemal weggevat. Dit is wat die besnydenis van Christus is.

12. Hy het julle besny toe julle gedoop is. Julle is gedoop, en dit beteken dat julle saam met Christus begrawe is. Dit beteken ook dat God julle saam met Christus weer laat lewe het. Dit is so, want julle glo in God, God wat sterk is en wat vir Christus weer laat lewe het.

13. Julle het voorheen baie sondes gedoen, en daarom was julle geestelik dood. Julle was nie besny nie. Maar God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe toe Hy al julle sondes vergewe het.

14. God het ons sondes in ’n boek geskryf, want ons het nie gedoen wat sy wette sê nie. Maar God het vir Christus aan die kruis laat sterf en so het Hy ons sondes vergewe, die sondes wat Hy in sy boek geskryf het. Ja, Hy het die sondes uitgevee uit sy boek.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 2