Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4:33-46 Bybel vir Almal (ABA)

33. Toe vra die dissipels vir mekaar: “Het iemand miskien kos vir Hom gebring?”

34. Jesus het vir hulle gesê: “My kos is om te doen wat God wil hê Ek moet doen. God het My na die wêreld gestuur. Ek moet alles klaar doen wat Hy gesê het.

35. Wanneer julle na die koringlande kyk, dan sê julle: ‘Oor vier maande sal die koring ryp wees, dan kan ons die koring afsny.’ Maar Ek sê vir julle: Kyk na die mense wat daar aankom, hulle is soos koring wat klaar ryp is.

36. Die man wat die koring afsny, kry nou al klaar sy beloning, want hy maak ’n oes bymekaar vir die ewige lewe. Dan sal die man wat saai en die man wat die koring afsny, saam bly wees.

37. Dit is waar wat die mense altyd sê: ‘Een man saai die koring en ’n ander man kom sny dit af.’

38. Ek het julle gestuur om koring te gaan afsny, maar julle het dit nie gesaai nie. Ander mense het gesaai, maar julle maak die koring bymekaar.”

39. Baie van die Samaritane in daardie stad het in Jesus geglo omdat die vrou vir hulle gesê het Jesus het vir haar alles vertel wat sy gedoen het.

40. Toe die Samaritane by Jesus kom, het hulle vir Hom gevra om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly.

41. Nog baie meer Samaritane het in Jesus geglo toe hulle gehoor het wat Hy alles sê.

42. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons het eers geglo omdat jy vir ons vertel het van Jesus. Maar nou het ons self na Hom geluister. Nou weet ons Hy is die Redder van die wêreld.”

43. Twee dae later het Jesus na die provinsie Galilea gegaan.

44. Jesus het eendag gesê ’n profeet se eie mense dink nie hy is belangrik nie.

45. Toe Jesus in Galilea kom, was die Galileërs baie vriendelik met Hom. Hulle was ook by die fees in Jerusalem en hulle het alles gesien wat Hy daar gedoen het.

46. Jesus het weer na Kana in Galilea gegaan. Dit is die stad waar Hy die water in wyn verander het. In die stad Kapernaum was daar ’n amptenaar van die koning. Sy seun was baie siek.

Lees volledige hoofstuk Johannes 4