Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. En elke maal wanneer Hy vir ons leer, dan voel dit vir ons soos iets om oor te huil en nie soos iets om oor bly te wees nie. Maar God het vir ons so geleer en ge-oefen dat ons later sal doen wat Hy wil hê en vrede sal maak.

12. Julle is moedeloos, maar julle moet sterk glo.

13. En julle moet aanhou om op die reguit pad te loop, dan sal die swak gelowiges wat vir julle volg, opstaan en doen wat God sê, hulle sal nie meer wees soos mense wat lam is nie.

14. Julle moet hard probeer om met al die mense in vrede te lewe en om te lewe soos die Here wil hê, want as julle dit nie doen nie, dan sal julle nooit die Here sien nie.

15. Julle moet ook oppas dat niemand God se genade weggooi nie. Iemand wat dit doen, is soos ’n giftige plant wat groei en groot word, hy maak probleme en hy laat baie mense vuil word van die sonde.

16. Julle moet ook oppas dat niemand soos Esau lewe nie. Hy het onsedelik gelewe en hy het gelewe soos ’n mens wat niks van God wil weet nie. Ja, Esau het vir een ete sy regte van die oudste seun verkoop.

17. Want julle weet ook dat Esau later wou hê dat sy pa hom moet seën, maar Isak kon toe nie vir hom seën nie. Esau het gehuil en gesoebat dat sy pa hom moet seën, maar dit was te laat, hy kon nie regmaak wat hy verkeerd gedoen het nie.

18. Julle het nie soos die Israeliete gekom by iets waaraan ’n mens kan raak nie, julle het nie gekom by ’n vuur wat brand, of by ’n donker wolk, of by ’n stormwind nie.

19. Julle het ook nie gekom waar ’n trompet geblaas het en waar Iemand gepraat het uit die hemel nie. Die mense wat dit gehoor het, het gesoebat dat God niks meer vir hulle moet sê nie,

20. want hulle kon nie doen wat God gesê het nie. Hy het gesê: “As ’n dier aan die berg raak, dan moet hulle hom doodgooi met klippe.”

21. Die dinge wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses gesê het: “Ek bewe, ek is baie bang.”

22. Nee, julle het by Sionsberg gekom, julle het gekom by die stad van die God wat lewe, by Jerusalem wat in die hemel is. Julle het ook gekom by so baie engele dat ’n mens hulle nie kan tel nie, julle het gekom by die fees waar almal bly is.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12