hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12 Bybel vir Almal (ABA)

Julle moet aanhou om na Jesus te kyk wanneer julle swaarkry

1. Ons het ’n groot klomp getuies rondom ons, en daarom moet ons alles los wat ons kan keer om te doen wat ons moet doen, ja, ons moet ook die sonde los wat so maklik vir ons kan vashou. Daarom moet ons ook aanhou om te glo soos iemand wat aanhou om in ’n resies te hardloop wat hy moet klaarmaak.

2. Ons moet dit doen terwyl ons aanhou om te kyk na Jesus, want dit is Hý wat ons van die begin af laat glo het en dit is Hý wat ons tot die einde laat glo. Jesus het geweet dat Hy later weer bly sou wees, en daarom het Hy gedink die skande van die kruis maak nie saak nie. Hy het aangehou om swaar te kry totdat Hy aan die kruis gesterf het. Daarom sit Hy nou op die belangrikste plek by die troon van God.

3. Julle moet goed onthou dat Jesus geduldig was toe die sondaars slegte dinge teen Hom gesê en gedoen het. Julle moet aan Jesus dink sodat julle nie moeg en moedeloos word nie.

4. Julle probeer hard om nie sonde te doen nie, maar julle het nog nie so hard teen die sonde geveg dat mense vir julle wil doodmaak nie.

5. Het julle vergeet dat die Here vir julle bemoedig het omdat julle sy kinders is? Hy het gesê: My seun, die dinge wat die Herevir jou leer,moet belangrik wees vir jou,jy moenie moedeloos wordwanneer Hy jou straf nie,

6. want Hy leer vir jou omdat Hylief is vir jou,Hy straf elke seunwat Hy aanneem.

7. Julle kry swaar sodat julle kan leer, daarom moet julle aanhou glo, want dit is Gód wat julle laat swaarkry omdat julle sy kinders is. Want elke pa leer vir sy kind.

8. God leer vir al sy kinders so. As Hy nie vir julle so kan leer nie, dan is julle buite-egtelike kinders, julle is dan nie God se ware kinders nie.

9. Ek wil nog iets sê: Ons pa’s was mense op die aarde, hulle het vir ons geleer, en ons het hulle gerespekteer. Maar ons sal baie meer moet luister na die Vader in die hemel, Hy wat vir almal die lewe gee. As ons luister, dan sal ons ook lewe.

10. Want ons pa’s het ons vir ’n kort rukkie geleer soos hulle gedink het dit is goed. Maar ons hemelse Vader leer vir ons hier op die aarde omdat dit goed is vir ons en omdat Hy wil hê ons moet gewyd wees, ons moet heilig wees, soos Hy heilig is.

11. En elke maal wanneer Hy vir ons leer, dan voel dit vir ons soos iets om oor te huil en nie soos iets om oor bly te wees nie. Maar God het vir ons so geleer en ge-oefen dat ons later sal doen wat Hy wil hê en vrede sal maak.

12. Julle is moedeloos, maar julle moet sterk glo.

13. En julle moet aanhou om op die reguit pad te loop, dan sal die swak gelowiges wat vir julle volg, opstaan en doen wat God sê, hulle sal nie meer wees soos mense wat lam is nie.

Julle moet luister wanneer God met julle praat

14. Julle moet hard probeer om met al die mense in vrede te lewe en om te lewe soos die Here wil hê, want as julle dit nie doen nie, dan sal julle nooit die Here sien nie.

15. Julle moet ook oppas dat niemand God se genade weggooi nie. Iemand wat dit doen, is soos ’n giftige plant wat groei en groot word, hy maak probleme en hy laat baie mense vuil word van die sonde.

16. Julle moet ook oppas dat niemand soos Esau lewe nie. Hy het onsedelik gelewe en hy het gelewe soos ’n mens wat niks van God wil weet nie. Ja, Esau het vir een ete sy regte van die oudste seun verkoop.

17. Want julle weet ook dat Esau later wou hê dat sy pa hom moet seën, maar Isak kon toe nie vir hom seën nie. Esau het gehuil en gesoebat dat sy pa hom moet seën, maar dit was te laat, hy kon nie regmaak wat hy verkeerd gedoen het nie.

18. Julle het nie soos die Israeliete gekom by iets waaraan ’n mens kan raak nie, julle het nie gekom by ’n vuur wat brand, of by ’n donker wolk, of by ’n stormwind nie.

19. Julle het ook nie gekom waar ’n trompet geblaas het en waar Iemand gepraat het uit die hemel nie. Die mense wat dit gehoor het, het gesoebat dat God niks meer vir hulle moet sê nie,

20. want hulle kon nie doen wat God gesê het nie. Hy het gesê: “As ’n dier aan die berg raak, dan moet hulle hom doodgooi met klippe.”

21. Die dinge wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses gesê het: “Ek bewe, ek is baie bang.”

22. Nee, julle het by Sionsberg gekom, julle het gekom by die stad van die God wat lewe, by Jerusalem wat in die hemel is. Julle het ook gekom by so baie engele dat ’n mens hulle nie kan tel nie, julle het gekom by die fees waar almal bly is.

23. Julle het gekom by die vergadering van die mense wat soos God se oudste seuns is, hulle name is opgeskryf in die hemel. Julle het gekom by die Regter wat die God van almal is, julle het gekom by die mense wat voorheen gelewe het en wat heeltemal geword het soos God wil hê hulle moet wees.

24. Julle het ook gekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en julle het gekom by die bloed van Jesus wat gevloei het en wat vir ons ’n beter boodskap bring as die bloed van Abel.

25. Julle moet oppas, julle moenie ongehoorsaam wees aan Hom wat met julle praat nie. Want toe God daardie mense voorheen op die aarde gewaarsku het, wou hulle nie luister na Hom nie, en hulle kon nie wegvlug van Hom nie. Ja, dit is waar, God waarsku nou vir ons uit die hemel, en julle weet dat as ons nie wil luister na God nie, dan sal ons ook nie kan vlug nie, dit sal nog slegter gaan met ons as met daardie mense wat ook nie kon vlug nie.

26. In daardie tyd het God hard gepraat en sy stem het die aarde geskud, maar nou het Hy belowe: “Ek sal nog een maal die aarde skud en Ek sal ook die hemel skud.”

27. En hierdie woorde, “nog een maal”, sê duidelik dat God die dinge sal wegneem, die dinge wat Hy gemaak en geskud het, sodat net die dinge wat niemand kan skud nie, sal oorbly.

28. Dit is seker dat God ons wil laat kom daar waar Hy Koning is, en daarom moet ons dankie sê vir God. Ons is dankbaar, en daarom moet ons vir God dien soos Hy wil hê, en ons moet Hom eer en respekteer,

29. want ons God is ook soos ’n vuur wat alles verbrand.