Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:15-35 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die wind het die skip saamgesleep. Ons kon nie die skip draai sodat dit teen die wind seil nie. Daarom het ons die skip gelos sodat dit gedryf het, saam met die wind.

16. Ons het die skip verby ’n klein eiland gestuur, die eiland se naam was Kauda. Die wind was daar nie baie sterk nie. Toe het ons baie gesukkel om te keer sodat die klein bootjie nie wegdryf van die skip nie.

17. Die matrose het die klein bootjie opgetrek en hulle het dit bo-op die skip vasgemaak. Toe het hulle toue om die skip gebind en so het hulle probeer om die skip sterker te maak. Hulle was bang dat die wind die skip sal stoot tot by die sandbanke van Sirtis, dan sou die skip stukkend breek. Daarom het hulle ’n seil aan ’n tou vasgemaak en hulle het die seil in die see gegooi om die skip stadiger te laat dryf. So het ons verder gedryf.

18. Dit was ’n kwaai storm. Daarom het die matrose die volgende dag begin om die goed wat op die skip was, in die see te gooi.

19. Op die derde dag het hulle self ook baie van die skip se seile en toue en pale in die see gegooi.

20. Ons het baie dae lank nie die son gesien nie, ook nie die sterre nie, en die storm was baie kwaai. Daarom het ons opgehou om te hoop, ons het gedink dat ons sal sterf.

21. Hulle het ’n lang tyd niks geëet nie. Paulus het toe opgestaan en hy het tussen hulle gaan staan en gesê: “Vriende, ek het gesê ons moenie wegseil van Kreta nie. Hoekom het julle nie na my geluister nie? Dan het julle nie nou hierdie groot probleme gehad nie, en dan het julle ook nie julle goed verloor nie.

22. Maar nou wil ek vir julle sê wat julle moet doen. Julle moet sterk wees. Nie een van julle sal sterf nie, maar die skip sal stukkend breek en sink.

23. Want gisternag het daar ’n engel by my kom staan. Dit was ’n engel van God, ek behoort aan daardie God, Hy is die God wat ek dien.

24. Die engel het vir my gesê: ‘Paulus, jy moenie bang wees nie. Jy moet voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan. God sal ook goed wees vir almal wat saam met jou op die boot is. Hy sal hulle red omdat Hy jou wil red.’

25. Vriende, daarom moet julle nie moedeloos wees nie! Ek glo dat God dit sal doen, ek glo dit sal gebeur soos die engel vir my gesê het.

26. Maar die skip sal stukkend breek by een van die eilande.”

27. Dit was 14 dae nadat die storm begin het. Dit was nag, en die skip het rondgedryf in die Adriatiese See. Dit was in die middel van die nag. Die matrose het gedink die skip kom naby die land.

28. Hulle het gemeet hoe diep dit is. Dit was 20 vaam. Die skip het verder gedryf. Hulle het weer gemeet hoe diep dit is en dit was toe 15 vaam.

29. Hulle was bang dat die skip stukkend sal breek op die rotse. Daarom het hulle vier ankers vasgemaak aan toue en hulle het die ankers afgegooi by die agterkant van die skip. Hulle het gebid dat dit dag moet word.

30. Party van die matrose wou wegkom van die skip. Hulle het gemaak of hulle ook ankers by die voorkant van die skip wil afgooi. Maar hulle het die klein bootjie geneem en hulle wou dit in die see laat sak en probeer om met die bootjie weg te kom van die skip.

31. Toe sê Paulus vir die offisier en vir die soldate: “Daardie matrose moet op die skip bly. As hulle nie op die skip bly nie, dan sal God nie vir julle red nie.”

32. Toe het die soldate die toue van die klein bootjie afgekap en hulle het die bootjie in die see laat val.

33. Net voor dit dag geword het, het Paulus almal bemoedig en hy het gesê hulle moet iets eet. Hy het gesê: “Julle is bang vir wat sal gebeur, en julle het 14 dae lank nie geëet nie.

34. Daarom vra ek nou mooi vir julle dat julle moet eet, want dit sal help dat julle aanhou lewe. Want julle moet weet dat daar nie een haar van iemand se kop sal afval nie, God sal julle beskerm.”

35. Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem en gebid en hy het vir God dankie gesê. Almal het gesien hoe hy dit doen. Toe het hy die brood gebreek en hy het begin om dit te eet.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27