Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 25:14-25 Bybel vir Almal (ABA)

14. Koning Agrippa en Bernice was lank daar, en Festus het vir die koning vertel wat met Paulus gebeur het. Hy het gesê: “Toe Feliks weggegaan het, het hy hier ’n man in die tronk gelos.

15. Toe ek in Jerusalem was, het die priesterleiers en die ouderlinge vir my vertel van die man, en hulle het gevra dat ek hom moet oordeel en moet sê hy is skuldig.

16. Maar ek het vir hulle gesê die Romeine doen dit nooit nie. Die Romeine maak eers seker dat iemand skuldig is en dan gee hulle hom vir die mense sodat hulle hom kan oordeel. Wanneer mense sê iemand is skuldig, dan moet daardie man hulle kan sien en kan hoor wat hulle sê, en dán moet hy sê hoekom hy nie skuldig is nie.

17. Toe het die Jode hier in Sesarea na my toe gekom. Ek het dadelik die volgende dag op die regterstoel gaan sit en vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal.

18. Die Jode het opgestaan en hulle het hom beskuldig. Ek het gedink hulle sal vertel van die slegte dinge wat hy gedoen het, maar hulle het niks slegte dinge teen hom gesê nie.

19. Hulle het met hom gestry oor dinge van hulle eie godsdiens, en oor iemand wat dood is, sy naam is Jesus, maar Paulus het gesê Jesus lewe weer.

20. Ek het nie geweet hoe om vrae oor daardie dinge te vra nie. Daarom het ek vir Paulus gevra of hy na Jerusalem wil gaan sodat ek hom daar kan oordeel oor hierdie sake.

21. Maar Paulus het gesê hy wil in die tronk bly en hy wil na die keiser toe gaan sodat die keiser kan besluit of hy skuldig is. Daarom het ek gesê hy moet in die tronk bly totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

22. Agrippa het vir Festus gesê: “Ek wil graag self luister na wat hierdie man sê.”Festus het gesê: “Jy kan môre met hom praat en luister na wat hy sê.”

23. Die volgende dag het Agrippa en Bernice in die saal ingekom. Hulle het baie duur klere aangehad en hulle het baie belangrik gelyk. Die hoof-offisiere en die belangrike manne van die stad het saam met hulle ingekom. Toe het Festus vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal.

24. En Festus het gesê: “Koning Agrippa en al die mense wat hier is, julle moet kyk hoe lyk hierdie man! Toe ek in Jerusalem was en ook hier in Sesarea, het al die Jode gekla oor hom. Hulle het geskree en gesê hy mag nie meer lewe nie.

25. Maar ek het uitgevind dat hy niks verkeerd gedoen het nie, dit is nie reg dat ons hom moet straf en doodmaak nie. Maar hy het gesê hy wil na die keiser toe gaan sodat die keiser kan besluit of hy skuldig is. Toe het ek besluit dat ek hom na die keiser toe sal stuur.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 25