Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:14-19 Bybel vir Almal (ABA)

14. Daar was ’n vrou, haar naam was Lidia. Sy het ook na ons geluister. Sy het van die stad Tiatira gekom en sy was ’n handelaar in pers materiaal. Sy was nie ’n Jood nie, maar sy het vir God gedien. Die Here het haar hart oopgemaak om baie goed te luister na wat Paulus gesê het.

15. Hulle het toe vir haar en die mense in haar huis gedoop. Toe het sy ons genooi en gesê: “As julle dink dat ek regtig in die Here glo, dan moet julle na my huis kom en julle moet daar kom bly.”En sy het aangehou om dit vir ons te sê totdat ons na haar huis gegaan het.

16. Ons was eendag besig om na die plek te gaan waar die Jode gewoonlik gaan bid het. ’n Slavin het na ons toe gekom. Sy het ’n bose gees in haar gehad. Sy het altyd gesê wat in die toekoms sal gebeur, en so het sy baie geld gekry vir haar eienaars.

17. Hierdie slavin het agter Paulus en ons geloop en sy het aangehou om te skree: “Hierdie manne is dienaars van die Hoogste God. Hulle vertel vir julle hoe God vir julle kan red.”

18. En sy het ’n lang tyd aangehou om dit te doen. Toe het Paulus kwaad geword, hy het omgedraai en vir die bose gees gesê: “Jesus Christus het vir my gesê ek moet vir jou sê: Gaan uit haar uit!”Die bose gees het dadelik uit haar uitgegaan.

19. Die eienaars van die slavin het besef dat hulle haar nie meer kan gebruik om vir hulle geld te verdien nie. Hulle het vir Paulus en Silas gegryp en na die mark gesleep. Die leiers van die stad was daar.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16