Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 12:9-21 Bybel vir Almal (ABA)

9. Petrus het uitgegaan en hy het saam met die engel gegaan. Petrus het nie besef dat dit alles regtig gebeur nie. Hy het gedink hy droom dat die engel dit doen.

10. Hulle het verby die eerste en die tweede plek gegaan waar die wagte gestaan het, en toe kom hulle by die ysterhek waardeur ’n mens na die stad gaan. Die hek het self oopgegaan vir hulle. Hulle het uitgegaan en hulle het in ’n smal straatjie geloop, en toe het die engel skielik weggegaan van Petrus.

11. Toe het Petrus verstaan wat regtig gebeur het en hy het gesê: “Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur het en dat die engel my gered het van Herodes. Hy het my ook gered van alles wat die hele Joodse volk gedink het sal gebeur.”

12. Petrus het toe verstaan wat gebeur het, en daarom het hy na die huis van Maria gegaan. Sy was die ma van Johannes, Johannes se ander naam was Markus. Baie mense het daar bymekaargekom en hulle was besig om te bid.

13. Petrus het aan die deur van die huis geklop. ’n Vrou wat daar gewerk het, het kom kyk wie by die deur is. Die vrou se naam was Rodé.

14. Toe sy hoor dat dit Petrus is wat praat, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie. Sy het in die huis ingehardloop en vir die mense vertel dat Petrus voor die deur staan.

15. Maar hulle het vir haar gesê: “Jy is mal!”Sy het aangehou om te sê sy is seker dat dit Petrus is. Hulle sê toe: “Dit is Petrus se engel.”

16. Maar Petrus het aangehou om aan die deur te klop. Nadat hulle die deur oopgemaak het, het hulle gesien dit is Petrus en hulle was baie verbaas.

17. Petrus het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly. Toe vertel hy vir hulle hoe die Here hom uit die tronk gelei het. Hy het ook gesê: “Julle moet hierdie dinge vir Jakobus en die ander gelowiges vertel.”Toe het hy uit die huis gegaan na ’n ander plek.

18. Die volgende dag was die soldate baie geskok en ontsteld oor wat met Petrus gebeur het.

19. Herodes het gesê hulle moet vir Petrus gaan soek, maar hulle het hom nie gekry nie. Herodes het toe die wagte baie uitgevra en toe het hy gesê dat mense die wagte moet wegvat en doodmaak. Later het Herodes van die provinsie Judea na die stad Sesarea gegaan en hy het daar ’n tyd lank gebly.

20. Koning Herodes was baie kwaad vir die mense van die stede Tirus en Sidon. Die mense van Tirus en Sidon het kos gekry van koning Herodes se land, en daarom het hierdie mense toe almal saam na koning Herodes toe gekom. Hulle het eers mooi gepraat met Blastus, ’n amptenaar wat moes sê wie met die koning mag praat. Blastus het geluister na wat hulle sê. Toe het hulle vir Herodes gevra om vrede te maak.

21. Op die spesiale dag het Herodes die mooi klere aangetrek wat ’n koning dra. Hy het gaan sit op die regterstoel en toe het hy met die vergadering van die volk gepraat.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 12