Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5:12-21 Bybel vir Almal (ABA)

12. Ek wens al die mense daar by julle wat julle koppe deurmekaar maak en wat sê julle moet besny word, sny hulle eie geslagsorgane heeltemal af.

13. Vriende, God wil hê julle moet vry wees, maar julle moenie dink julle is vry en dan doen julle die slegte dinge wat mense graag doen nie. Nee, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet mekaar help.

14. Want die boodskap van al God se wette is: “Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.”

15. Maar julle doen dit nie. Julle is soos honde wat mekaar byt en hap. Julle moet oppas dat julle nie mekaar op-eet nie!

16. Ek sê vir julle: Die Heilige Gees moet julle lewens regeer. Dan sal julle nie die slegte dinge doen wat mense graag doen nie.

17. Want die slegte dinge binne-in julle harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê. En die Heilige Gees wil iets anders hê as wat die slegte dinge in julle harte wil hê. Hulle is altyd teen mekaar. Daarom kan julle nie die dinge doen wat julle self wil doen nie.

18. En as die Heilige Gees julle lewens regeer, dan regeer die wette nie meer oor julle nie.

19. Almal weet wat die slegte dinge is wat mense graag doen: Hulle lewe onsedelik, hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, hulle doen wat hulle wil,

20. hulle dien afgode, hulle toor, hulle is vyande van ander mense, hulle haat ander mense, hulle is jaloers, hulle word maklik kwaad, hulle stry met almal, hulle maak mense kwaad vir mekaar, hulle maak mense vyande van mekaar,

21. hulle wil nie hê ander mense moet meer hê as hulleself nie, hulle drink totdat hulle dronk is, hulle hou wilde partytjies, en hulle doen nog meer slegte dinge. Ek het voorheen vir julle gesê en ek sê nou weer: Mense wat hierdie dinge doen, sal nie die ewige lewe kry nie, die lewe by God, die Koning.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 5