Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 1:13-27 Bybel vir Almal (ABA)

13. Want al die mense van die keiser wat my hier oppas en ook die ander mense weet nou dat ek ’n gevangene is omdat ek aan Christus behoort.

14. Die meeste mense hier wat in die Here glo, glo nou nog meer vas dat die Here sal doen wat Hy gesê het, omdat hulle gehoor het dat ek ’n gevangene is. Hulle word nou meer en meer dapper, hulle is nie bang om die boodskap van die Here vir ander mense te bring nie.

15. Party van die mense hier preek oor Christus omdat hulle jaloers is en daarvan hou om te stry. Maar ander mense preek oor Christus omdat hulle goed wil doen.

16. Hulle preek omdat hulle lief is vir Christus en hulle weet ek is ’n gevangene omdat ek vertel dat die goeie boodskap oor Christus reg is.

17. Maar die ander mense preek omdat hulle selfsugtig is. Ja, hulle is vals. Hulle wil hê dat ek nou nog swaarder moet kry terwyl ek ’n gevangene is.

18. Party mense is vals wanneer hulle preek, en party mense wil goed doen wanneer hulle preek. Maar dit maak nie vir my saak hoekom hulle preek nie. Hulle preek almal oor Christus, en daaroor is ek bly. En ek sal aanhou om bly te wees,

19. want julle bid vir my, en die Gees van Jesus Christus help my. Daarom weet ek dat God alles wat gebeur, sal gebruik om my te red.

20. Ek hoop en ek weet seker dat God my sal help en dat Hy my nie sal los nie. Ja, ek wil altyd, soos voorheen, graag wys dat Christus die belangrikste is. Daarom maak dit nie saak of ek sal lewe en of ek sal sterf nie.

21. As ek lewe, dan lewe ek vir Christus, en as ek sterf, dan is dit vir my nog beter.

22. Ek weet nie wat ek moet kies nie. As ek aanhou lewe, dan kan ek goeie werk doen,

23. maar ek wil graag sterf om by Christus te wees, want dit is die beste. En dit is vir my regtig baie moeilik om te kies of ek moet aanhou lewe en of ek moet sterf.

24. Maar vir julle is dit belangriker dat ek sal aanhou lewe.

25. Ja, ek is seker daarvan. Daarom weet ek dat ek sal aanhou lewe en nog saam met julle almal sal wees, sodat julle geloof kan groei en sodat dit julle bly kan maak.

26. Wanneer ek weer by julle is, dan sal julle nie ophou om Christus Jesus te prys oor my nie.

27. Die belangrikste van alles is dat julle só moet lewe dat julle lewens pas by die goeie boodskap oor Christus. Julle moet saamwerk en dieselfde dinge dink en glo. Julle moet almal saam hard werk sodat ander mense die goeie boodskap kan glo. Julle moet dit doen wanneer ek na julle toe kom en vir julle sien, maar ook wanneer ek nie kom nie en by ander mense hoor wat julle doen.

Lees volledige hoofstuk Filippense 1