hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 1 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek, Paulus, ’n dienaar van Christus Jesus, skryf hierdie brief vir julle almal wat God se mense is in Filippi, almal wat aan Christus Jesus behoort. Ek skryf ook vir julle, ouderlinge en diakens. Timoteus, ook ’n dienaar van Christus Jesus, skryf die brief saam met my.

2. Ek bid dat God ons Vader en die Here genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.

Paulus dink aan die gelowiges in Filippi en hy bid vir hulle

3. Elke maal wanneer ek aan julle dink, dan sê ek vir my God dankie.

4. Elke maal wanneer ek vir julle almal bid, dan word ek bly,

5. want vandat julle die goeie boodskap die eerste maal gehoor het, tot nou toe, help julle my om daardie boodskap na ander mense toe te bring.

6. God het begin om ’n goeie ding in julle harte te doen. Ek is baie seker dat Hy dit sal klaarmaak op die dag wanneer Christus Jesus weer kom.

7. Dit is heeltemal reg dat ek so oor julle dink, want julle is lief vir my. Julle almal dink altyd aan my en julle weet hoe goed God vir my is terwyl ek nou ’n gevangene is en hier kan vertel dat die goeie boodskap reg en waar is.

8. God weet hoe baie ek na julle verlang. Hy weet ek is so lief vir julle soos Christus Jesus lief is vir julle.

9. Ek bid dat julle liefde meer en meer sal word sodat julle alles beter sal verstaan en sal weet

10. watter dinge is die regte dinge om te doen. Dan sal julle harte heeltemal skoon wees wanneer Christus weer kom, en niemand sal kan sê dat julle vir hom probleme gegee het nie.

11. Ja, Jesus Christus sal julle help om baie goeie dinge te doen, en so sal julle vir almal wys dat julle God prys en dien.

Paulus is ’n gevangene

12. Vriende, ek wil hê julle moet weet dat al die dinge wat met my gebeur het, gehelp het dat meer mense die goeie boodskap hoor.

13. Want al die mense van die keiser wat my hier oppas en ook die ander mense weet nou dat ek ’n gevangene is omdat ek aan Christus behoort.

14. Die meeste mense hier wat in die Here glo, glo nou nog meer vas dat die Here sal doen wat Hy gesê het, omdat hulle gehoor het dat ek ’n gevangene is. Hulle word nou meer en meer dapper, hulle is nie bang om die boodskap van die Here vir ander mense te bring nie.

15. Party van die mense hier preek oor Christus omdat hulle jaloers is en daarvan hou om te stry. Maar ander mense preek oor Christus omdat hulle goed wil doen.

16. Hulle preek omdat hulle lief is vir Christus en hulle weet ek is ’n gevangene omdat ek vertel dat die goeie boodskap oor Christus reg is.

17. Maar die ander mense preek omdat hulle selfsugtig is. Ja, hulle is vals. Hulle wil hê dat ek nou nog swaarder moet kry terwyl ek ’n gevangene is.

18. Party mense is vals wanneer hulle preek, en party mense wil goed doen wanneer hulle preek. Maar dit maak nie vir my saak hoekom hulle preek nie. Hulle preek almal oor Christus, en daaroor is ek bly. En ek sal aanhou om bly te wees,

19. want julle bid vir my, en die Gees van Jesus Christus help my. Daarom weet ek dat God alles wat gebeur, sal gebruik om my te red.

20. Ek hoop en ek weet seker dat God my sal help en dat Hy my nie sal los nie. Ja, ek wil altyd, soos voorheen, graag wys dat Christus die belangrikste is. Daarom maak dit nie saak of ek sal lewe en of ek sal sterf nie.

21. As ek lewe, dan lewe ek vir Christus, en as ek sterf, dan is dit vir my nog beter.

22. Ek weet nie wat ek moet kies nie. As ek aanhou lewe, dan kan ek goeie werk doen,

23. maar ek wil graag sterf om by Christus te wees, want dit is die beste. En dit is vir my regtig baie moeilik om te kies of ek moet aanhou lewe en of ek moet sterf.

24. Maar vir julle is dit belangriker dat ek sal aanhou lewe.

25. Ja, ek is seker daarvan. Daarom weet ek dat ek sal aanhou lewe en nog saam met julle almal sal wees, sodat julle geloof kan groei en sodat dit julle bly kan maak.

26. Wanneer ek weer by julle is, dan sal julle nie ophou om Christus Jesus te prys oor my nie.

Hoe moet Christene lewe?

27. Die belangrikste van alles is dat julle só moet lewe dat julle lewens pas by die goeie boodskap oor Christus. Julle moet saamwerk en dieselfde dinge dink en glo. Julle moet almal saam hard werk sodat ander mense die goeie boodskap kan glo. Julle moet dit doen wanneer ek na julle toe kom en vir julle sien, maar ook wanneer ek nie kom nie en by ander mense hoor wat julle doen.

28. Julle moet glad nie bang wees vir julle vyande nie. As julle nie vir hulle bang is nie, dan sal dit vir hulle wys dat God hulle sal straf, maar dat Hy julle sal red.

29. God is goed vir julle, Hy laat julle glo in Christus, en meer nog, Hy laat julle ook swaarkry. Julle kry swaar omdat julle aan Christus behoort.

30. Julle het gesien en julle hoor nou nog hoe swaar ek kry. Nou kry julle saam met my swaar.