Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 8:10-24 Bybel vir Almal (ABA)

10. Ek wil vir julle sê wat julle moet doen wanneer julle moet besluit wat julle nóg wil doen om die gelowiges in Judea te help. Want julle het al klaar verlede jaar besluit om geld bymekaar te maak, en toe het julle dit begin doen.

11. Maar nou moet julle die werk klaarmaak wat julle begin doen het. Julle wou graag begin kollekteer, en julle moet dit nou klaarmaak. En julle moet gee wat julle kán gee.

12. Want as ’n mens graag iets wil gee, dan aanvaar die Here dit wat jy kan gee. Die Here wil nie hê dat jy iets moet gee wat jy nie het nie.

13. Hy wil nie hê dat julle self moet swaarkry omdat julle baie gee om die gelowiges in Jerusalem te help nie. Nee, die een moenie meer as die ander hê nie.

14. Julle het nou meer as genoeg om te kan lewe. Daarom kan julle vir ander mense gee, mense wat nie genoeg het nie. Daar sal miskien weer ’n tyd kom wanneer die gelowiges in Jerusalem te veel het. Dan sal hulle weer vir júlle help wanneer julle te min het. En dan sal die een nie meer as die ander hê nie.

15. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Hulle wat baie gehad het,het nie te veel gehad nie,en hulle wat ’n bietjiegehad het,het nie te min gehad nie.

16. Maar ek sê vir God dankie dat Hy vir Titus lus gemaak het om julle te gaan help om die geld te kollekteer. Titus dink ook soos ek dat dit belangrik is dat julle klaar moet kollekteer.

17. Want toe ons vir Titus ernstig gevra het om vir julle te gaan help, het hy ja gesê. Maar hy wou dit voorheen self graag doen. Daarom het hy self besluit om te gaan.

18. Ons stuur ook iemand anders saam met Titus. Hy werk saam met ons vir die Here. Al die gemeentes ken hom en prys hom omdat hy die goeie boodskap so goed bring.

19. Maar dit is nie net óns wat hom stuur nie, die gemeentes het hom ook gekies om saam met ons te werk wanneer ons die geld kollekteer vir die gelowiges in Jerusalem. Ons doen hierdie werk sodat almal kan sien dat net die Here Koning is. En dan kan almal ook sien dat ons graag hierdie werk wil doen.

20. Ons wil ook keer sodat mense nie sleg praat van ons nie. Want dit is baie geld wat ons kry en uitdeel.

21. Ons wil só werk dat die goeie dinge wat ons doen, reg sal wees vir die Here en dat mense duidelik sal kan sien dat ons reg werk met die geld.

22. Ons stuur ook ’n derde persoon saam met Titus en die ander persoon. Die derde persoon werk ook vir die Here soos ons. Ons het hom baie getoets in al die werk wat hy saam met ons gedoen het. Hy werk baie hard vir die Here. En hy is nou baie opgewonde om na julle toe te gaan, omdat hy glo dat julle graag wil help.

23. Nou praat ek weer oor Titus: Julle moet onthou, hy werk baie hard saam met my, en hy wil graag saam met julle werk. En julle moet onthou die gemeentes stuur ook die ander twee persone, en Christus is trots op hulle altwee.

24. Julle moet nou bewys dat julle lief is vir ander mense en dat ons reg is wanneer ons spog oor julle. Julle moet dit so doen dat die gemeentes dit kan sien.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 8