Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 10:5-17 Bybel vir Almal (ABA)

5. Mense dink dinge wat keer sodat hulle nie vir God kan leer ken nie, en hulle is trots wanneer hulle so dink. Maar ons breek alles af wat hulle dink. Ja, ons maak gevangenes van alles wat mense dink sodat die mense gehoorsaam kan wees aan Christus.

6. Ons wil almal straf wat nie gehoorsaam is aan Christus nie. Maar ons sal dit eers doen wanneer julle heeltemal gehoorsaam is aan Christus.

7. Julle moet goed dink hieroor. As een van julle seker is dat hy aan Christus behoort, dan moet hy onthou dat ons ook, soos hy, aan Christus behoort.

8. Die Here het gesê ons moet julle geloof sterk maak, Hy het nie gesê ons moet julle laat ophou glo nie. Julle dink miskien dat ek te veel spog oor wat die Here gesê het ons mag doen. Maar dit is regtig so, die Here hét vir ons gesê ons moet julle geloof sterk maak. En ek is nie skaam daaroor nie.

9. Julle moenie dink dat ek probeer om julle bang te maak in my briewe nie.

10. Want miskien is daar mense wat sê: “Paulus se briewe is baie ernstig en kwaai, maar wanneer hy self hier by ons is, dan lyk hy nie so kwaai nie en dan praat hy nie soos ’n apostel moet praat nie.”

11. Mense wat so sê, moet weet: Wanneer ons nie by julle is nie, dan skryf ons in ons briewe wat ons sal doen, en ons sál dit doen wanneer ons by julle is, ons sal party mense straf.

12. Ons sal nooit dink dat ons so goed is soos party mense in die gemeente nie, mense wat wil hê dat ons vir hulle moet glo. Hierdie mense kyk net na hulleself en dan dink hulle dat hulle goed is. En daarom verstaan hulle niks.

13. Maar ons sal nie spog oor iets waaroor ons nie mag spog nie. Ons sal net spog oor wat God vir ons gesê het om te doen, en dit is om ook by julle te werk in Korinte.

14. Ek spog nie wanneer ek sê dat ons tot by julle gekom het nie. Ons hét by julle gekom en ons hét die goeie boodskap van Christus gebring.

15. Ons spog nie oor werk wat ander mense gedoen het nie, ons spog nie oor werk wat ons nie self gedoen het nie. Ons hoop en weet dat julle geloof sterker sal word, en dat ons dan nog meer en meer sal werk in julle stad, die stad waar God gesê het ons moet werk.

16. Ons wil die goeie boodskap graag ook op ander plekke bring, plekke verder as Korinte. Maar ons wil nie spog oor die goeie werk wat ander mense al klaar daar gedoen het nie.

17. As ’n mens wil spog,dan moet hy oor die Here spog.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 10