Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 1:2-8 Bybel vir Almal (ABA)

2. Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir jou, Timoteus. Jy is vir my soos my eie kind, want ek het jou gehelp om in Christus te glo. Ek bid dat God die Vader en Christus Jesus ons Here genadig sal wees vir jou en dat Hy goed sal wees vir jou wanneer jy swaarkry. Ek bid ook dat Hy vir jou vrede sal gee.

3. Voordat ek na die provinsie Masedonië gegaan het, het ek vir jou mooi gevra om in Efese te bly. Nou vra ek weer vir jou mooi om daar te bly sodat jy vir party mense kan sê hulle moet ophou om verkeerde dinge vir die mense te leer.

4. Hulle moet ook ophou om te luister na al die stories wat nie waar is nie en hulle moet ook nie dink dat baie name van voorouers belangrik is nie. Hierdie dinge laat mense stry met mekaar, hierdie dinge help hulle nie om te glo dat God ’n plan het om die mense te red wat in Christus glo nie.

5. Ek sê dit vir julle omdat gelowiges lief moet wees vir mekaar en vir God. Gelowiges moet mense wees wat net vir God dien, hulle moet goed weet wat is reg en wat is verkeerd, en hulle moet waarlik in Christus glo.

6. Party mense het opgehou om dit te doen en nou hou hulle aan om dinge te praat wat niks beteken nie.

7. Hulle wil vir ander mense leer wat die Wette van Moses sê. Hulle dink hulle weet alles, maar hulle verstaan self nie wat hulle sê nie en hulle verstaan ook nie die dinge waaroor hulle praat nie.

8. Ons weet dat die Wette van Moses goed is as ’n mens dit reg gebruik soos ’n mens dit moet gebruik.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 1