Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 6:12-20 Bybel vir Almal (ABA)

12. Ek weet julle sê ’n mens mag alles doen. Maar julle moet onthou: Alles is nie goed vir ’n mens nie. Julle sê ’n mens mag alles doen, maar ek sê jy mag nie iets so belangrik laat word dat dit oor jou regeer nie.

13. Julle sê ook kos moet na ’n mens se maag gaan, en die maag moet kos kry. Maar julle moet onthou: Die kos en ’n mens se maag behoort altwee aan God. God sal dit vir ons wys wanneer Hy eendag kom en besluit dat die maag en kos nie meer nodig is nie. Dit is dieselfde met ’n mens se liggaam: Die Here het ons liggame gemaak, nie om onsedelik te lewe nie, maar om Hom te dien. Ons liggame behoort aan die Here.

14. God het die Here Jesus weer laat lewe, en so sal God ons ook eendag weer laat lewe, Hy sal dit doen met sy krag.

15. Julle moet weet ons liggame behoort aan Christus. Daarom mag julle liggame nie ook aan ’n prostituut behoort nie.

16. Julle weet almal dat wanneer ’n mens seks het met ’n prostituut, dan word jou liggaam en haar liggaam saam één liggaam. Want in die Ou Testament is geskryf: Hulle twee sal sooseen mens wees.

17. Maar as ’n mens saam met die Here lewe, dan is jou gees en sy Gees een.

18. Julle moenie onsedelik lewe nie. Al die ander sondes wat ’n mens doen, doen hy nie aan sy liggaam nie, maar wanneer hy onsedelik lewe, dan is dit ’n sonde wat hy aan sy eie liggaam doen.

19. Julle moet weet dat ’n mens se liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is. God het sy Gees vir julle gegee om in julle te woon. Daarom behoort julle nie aan julleself nie.

20. God het duur betaal toe Hy julle gekoop het vir Hom. Daarom moet julle vir God prys met julle liggame.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 6