Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 14:22-37 Bybel vir Almal (ABA)

22. Dit beteken: Die genadegawe om in tale te praat, is ’n teken vir mense wat nie glo nie. Dit is nie ’n teken vir mense wat glo nie. Maar die genadegawe om God se boodskap te bring, is ’n teken vir mense wat glo, dit is nie ’n teken vir mense wat nie glo nie.

23. Daarom, wanneer die hele gemeente bymekaarkom en daar kom miskien mense in wat nie vir julle ken nie, dan sal hulle dink julle is mal. Of as daar mense inkom wat nie in Christus glo nie, dan sal hulle ook dink julle is mal.

24. Maar as almal die boodskap van God bring, en daar kom iemand in wat nie in Christus glo nie, of dit is iemand wat nie vir julle ken nie, dan sal hy voel almal praat met hom oor die dinge wat verkeerd is in sy lewe. Hy sal voel almal sê vir hom dat God hom sal straf oor sy sondes.

25. Hy sal sê dit is waar dat daar slegte dinge diep in sy hart is, dinge waarvan niemand weet nie. En dan sal hy buig en vir God aanbid en sê: “God is regtig hier by julle.”

26. Vriende, wat beteken dit alles? Dit beteken dat wanneer julle bymekaarkom, dan het elkeen ’n genadegawe, hy kan die Here daarmee dien. Daar is verskillende genadegawes: om ’n lied te sing, om iets vir ander mense te leer, om te vertel wat die Here vir jou gewys het, om in tale te praat, of om daardie tale te kan tolk. Maar onthou, alles moet só gebeur dat dit julle geloof sterker maak.

27. As mense in tale wil praat, dan moet dit net twee persone wees wat praat, of nie meer as drie persone nie. Hulle moenie saam praat nie, hulle moet ná mekaar praat wanneer dit hulle beurt is om te praat. En daar moet iemand wees wat kan tolk en sê wat dit beteken.

28. As daar nie iemand is wat kan tolk nie, dan moet die een wat in tale praat, stilbly, dan moet hy nie praat daar waar die gemeente bymekaarkom nie. Hy moet praat daar waar hy alleen is en waar hy sy eie geloof sterk kan maak en met God kan praat.

29. En wanneer die profete God se boodskap bring, dan moet dit ook net twee of drie profete wees wat praat. Die ander profete moet luister of hulle reg praat.

30. En as een profeet praat en God wys vir ’n ander profeet iets wat hy dadelik vir die gemeente moet sê, dan moet die eerste profeet ophou praat.

31. Elke profeet kan ’n beurt kry om God se boodskap vir die gemeente te bring. En so leer God vir almal en so maak Hy almal se geloof sterk.

32. Julle moet onthou, ’n profeet kan besluit om op te hou praat en hy kan vir ’n ander profeet ’n beurt gee om te praat.

33. Want God wil hê dat alles wat julle doen, reg moet wees wanneer julle bymekaarkom, dit moenie deurmekaar wees nie, want God hou van vrede.Vroue praat nie in een van die gemeentes nie,

34. en hulle moet dit ook nie by julle doen nie. God wil dit nie hê nie, die vroue moet luister na hulle mans. Die Ou Testament sê dieselfde.

35. As die vroue iets wil weet, dan moet hulle dit by die huis vir hulle mans vra, want dit is nie mooi wanneer ’n vrou in die kerk praat nie.

36. Julle is nie die eerste gemeente wat die boodskap van God gebring het nie, en julle is ook nie die enigste gemeente wat die boodskap gehoor het nie.

37. As iemand ’n profeet of ’n geestelike mens is, dan sal hy weet dat die dinge wat ek vir julle skryf, dinge is wat die Here self sê.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 14